Pleidooi gerig aan roekelose bestuurders

Daar was onlangs verskeie padongelukke wat die vallei geruk en die dood van talle mense veroorsaak het.


Daar was onlangs verskeie padongelukke wat die vallei geruk en die dood van talle mense veroorsaak het.

Hierdie brief gaan uit as ’n pleidooi aan alle motoriste om waaksaam te wees wanneer julle in jul motors klim.

Jy hou jou en ander se lewe in jou hande en kan met ’n roekelose besluit iemand se dood veroorsaak.

Die mense wat so drink en bestuur, dié wat op hul selfone is, of dié wat oor rooi robotte ry, stel almal in gevaar.

Dit sluit die taxi- en Uber-drywers ook in, wat absolute anargie op die paaie veroorsaak.

Die mense wat nie hul flikkerligte gebruik nie en die bestuurder agter hulle laat raai watter kant toe gedraai gaan word, is selfsugtig.

Dink asseblief aan die mense wat jou roekelose padgebruik moontlik kan beïnvloed.

Jy kan die lewe van ’n ma of pa eis; die lewe van ’n broodwinner wie se kinders sonder daardie inkomste nie kos het om te eet nie.

Dit kan jou lewe ook benadeel met ’n strafbare-manslag-klag wat oor jou kop hang en die wete dat jy iemand “vermoor” het, sal ewig by jou spook.

Dink twee keer voordat jy in jou voertuig klim en die enjin aanskakel.


J Marais,

Newton

You need to be Logged In to leave a comment.