Lance Booysen, ‘n platejoggie van Klapmuts beter bekend as The Switch. Foto: Verskaf

KLAPMUTS – Lance Booysen (36) ‘n platejoggie van Klapmuts wat ook as The Switch bekend staan, se lewe was vol uitdagings. Die plaaslike kunstenaar, wat onlangs fase 3-Hodgkin-limfoom oorleef het, sien nou uit na ’n nuwe hoofstuk in sy loopbaan – die bekendstelling van sy langverwagte debuut-EP op 31 Oktober.

Booysen het Hodgkin-limfoom, ‘n soort bloedkanker, oorleef nadat dit in Maart by hom gediagnoseer is. Volgens hom het hy op 14 Maart ‘n “gig” gehad, maar hy het daardie dag ook gesukkel met sy gesondheid, waarna hy vir toetse na Paarl-hospitaal gegaan het en toe na Tygerberg-hospitaal oorgeplaas is, waarna die dokters hom meegedeel het dat hy fase 3-bloedkanker het.

Hy is hierna vir 12 weke op ‘n intensiewe chemo-behandeling en het wesenlike leefstylveranderinge ondergaan, soos om gesonder te eet en meer te oefen – iets wat hy steeds doen.

Hy het nou onlangs die goeie nuus ontvang dat hy in remissie is. Booysen het in ’n musikale familie grootgeword en dit was dus onvermydelik dat hy eendag dieselfde sou doen.

Volgens hom was daar nie geld vir tersiêre studies nie en het hy as ‘n vragmotorbestuurder gewerk terwyl hy in Porterville gewoon het. Hy vertel verder dat hy altyd ‘n passie vir musiek gehad het en beplan het om dit in ‘n professionele hoedanigheid te beoefen.

Booysen het sowat 10 jaar gelede na Klapmuts teruggekeer en is getroud en ‘n pa van ‘n dogter. Sy formele opleiding het begin by Underground DJ in Mitchells Plain, ’n skool gestig deur die legendariese DJ Ron X, wat ‘n mentor vir Booysen geword het. Dit was DJ Ron X wat hom die naam “The Switch” gegee het, ’n titel wat sy evolusie van selfgeleerde hiphop-DJ na ’n veelsydige kunstenaar simboliseer.

Uiteindelik het Booysen sy kenmerkende klank in Gqom gevind, ’n plaaslike Suid-Afrikaanse genre wat deur kunstenaars soos DJ Tira, Oskido en Black Coffee gewild gemaak is.

Daardie kreatiewe wending het vrugte afgewerp en kort voor lank was Booysen die platejoggie by groot geleenthede, insluitend die DStv Mitchells Plain-fees in 2023, en het van Kaapstad se gewildste klubs gespeel.

Hierna het Booysen egter stelselmatig siek begin word en het tot dusver nog by geen nuwe groot geleenthede gespeel nie, maar vertel dat hy wel uitsien om weer te begin en dat hy gereeld by klubs en funksies as platejoggie opdaag.

Hy stel ook op 31 Oktober vanjaar sy langverwagte debuut-EP vry wat beskikbaar sal wees om te luister op alle musiekplatforme. Booysen vertel dat hy buiten sy kankerdiagnose wat hom getoets het ook ‘n ontstuimige kinderlewe gehad.

“My ouma het my grootgemaak en toe ek nege jaar oud was, is sy oorlede. Daarna is ek weer in my ouers se sorg geplaas en daar was ek aan alkoholmisbruik blootgestel.”

Sport het egter sy ontsnapping geword. As leerder by Scottsville High School het hy in rugby uitgeblink en ’n beurs by Hoërskool Bellville gekry, waar hy op provinsiale vlak gespeel het. Hy het ook later vir die Durbell-rugbyklub in Durbanville uitgedraf.

Booysen moedig ander aan om hul gesondheid eerste te stel en wil sy ondersteuners herhinner dat die “lewe nie gaan oor materialistiese dinge nie”.

You need to be Logged In to leave a comment.