Kinderland, ’n Wellingtonse kleuterskool, tref tans voorbereidings om tot ver buite Wellington betrokke te raak by die opleiding van opvoeders by kleuterskole.
Die mikpunt is om hulle sodoende toe te rus om die kleuters deeglik voor te berei vir die toekoms.
Kinderland het in Augustus 2010 sy deure amptelik op Wellington geopen. In die eerste jaar was daar sewe kleuters in die skool.
Vandag, ná slegs sewe jaar, spog Kinderland met 100 kinders tussen een en vyf jaar oud.
Ilse Human en Suzaan Steyn is die hoofde van die skool en daar is ’n permanente personeel van 17 vroue.
Aangesien vroeë kinderontwikkeling so uiters belangrik is, is daar van owerheidsweë in 2015 ’n nasionale dokument, Die Nasionale Kurrikulumraamwerk vir kinders van geboorte tot vier jaar (NKR), gepubliseer.
Dit gaan vanaf 2018 landwyd in kleuterskole gebruik word.
Die bestuur van Kinderland het van vroeg af insae in die ontwikkeling van hierdie dokument gehad en kon reeds in 2014 hul eie leerprogram ontwikkel wat aan die vereistes van die NKR voldoen.
Die nuwe program word reeds sedert 2014 by Kinderland gebruik.
Kinderland se eie program is ontwikkel onder leiding van Gertie Smit, ’n eertydse lektor in die Grondslagfase aan die KSUT op Wellington. Die program is die afgelope vier jaar in Kinderland gebruik, hersien en waar nodig verder ontwikkel.
Dit lewer uitstekende resultate wat die bestuur van Kinderland laat besluit het om die skool ook as ’n opleidingsinstansie vir helpers by kleuterskole te ontwikkel.
Onderhandelinge is reeds aan die gang om so ’n opleidingsbeen by die skool tot stand te bring.
In aansluiting daarby het die bestuur van Kinderland, wat graag betrokke wil raak by die opvoedkundige nood van kinders in agtergeblewe gemeenskappe, dus besluit om ook ’n samewerkingsooreenkoms met Caritas Gemeenskapsfokus, die welsynsarm van die NG Sinode van die Noord-Kaapland, te sluit.
Kragtens hierdie ooreenkoms word ’n Kinderland-Caritas opvoedkundige leerprogram vir kleuterskole nou ontwikkel wat aan die vereistes van die Nasionale Kurrikulumraamwerk (NKR) sal voldoen en wat aangepas is vir die eiesoortige behoeftes van kleuterskole in agtergeblewe gebiede in die Noord-Kaap.
Ilse Human van Kinderland is ook besig om ’n program te ontwikkel om tuisversorgers wat met babas van tot 18 maande werk, te help om gehaltesorg en stimulasie aan die kinders met wie hulle werk te gee.
Kinderland was ook die inspirasie wat gelei het tot die publikasie van vier uitstekende boeke om hul nuwe opvoedkundige program te ondersteun. Twee boeke, Rympies vir Pikkies en Peuters en Rympies vir Kleintjies en Kleuters, is spesiaal saamgestel deur die bekende skrywers Riana Scheepers en Suzette Myburg-Kotze. Hulle is bygestaan deur Gertie Smit.
Smit het ook vir twee verdere boeke ter ondersteuning van die program gesorg – Liedjies vir Pikkies en Peuters en Stories vir Pikkies en Peuters.
Die toekomsbeplanning wat by Kinderland op Wellington vorm begin kry, gee op merkwaardige wyse vorm aan die droom wat die beroemde Andrew Murray baie jare gelede vir kinders in die vooruitsig gestel het.
Trouens, Murray se heel eerste boek wat reeds in 1858 verskyn het, se titel was Jezus de Kindervriend en daarin het Murray reeds vanuit ’n Bybelse perspektief riglyne in die vooruitsig gestel vir die onderrig van kleuters.