Planne op dreef om fonteine weer te laat vloei

Goeie nuus vir Wellingtonners is dat die spuitfontein en omringende terrein by die samekoms van Blouvleiweg, Bain-en Piet Retiefstraat, asook die gedeelte oorkant die fontein, voor in die ry staan in die nuwe boekjaar vir ’n splinternuwe voorkoms.


Goeie nuus vir Wellingtonners is dat die spuitfontein en omringende terrein by die samekoms van Blouvleiweg, Bain-en Piet Retiefstraat, asook die gedeelte oorkant die fontein, voor in die ry staan in die nuwe boekjaar vir ’n splinternuwe voorkoms.

Wellingtonners sal self kan besluit hoedat die fontein en omgewing nuut gemaak moet word. Bykomend tot hierdie goeie nuus, is die moontlikheid van ’n verandering van die padaansluiting vir verbeterde verkeersvloei.

Oorspronklik was dit ’n besonderse landmerk by die inkom na die middedorp, maar vir baie lank reeds is die fontein buite werking en die gebied daar rondom vertoon verwaarloos.

Die spuitfontein en omliggende terrein het die afgelope jare ’n steen des aanstoots geword vir die publiek omdat dit deur sekere inwoners geminag en misbruik is vir allerhande onaanvaarbare en selfs onwettige aktiwiteite soos was van klere wat dan oral opgehang is vir droog word, ongebreidelde leeglêery, drankmisbruik en selfs ontlasting in die openbaar.

Die sypaadjie aan agterkant kon nie deur voetgangers gebruik word nie omdat dit ook as slaapplek deur haweloses gebruik is.

Vele klagtes oor die toestand en agteruitgang van die erfenisgebied is maandeliks oor ’n lang tydperk by die Forum deur besorgde inwoners van Wellington ingedien. Vertoë is gerig en voorstelle vir die oplossing van die situasie is met verskillende rolspelers onderhandel om ’n permanente, werkbare en estetiese oplossing te kry.

’n Bekende inwoner, Marlene Weyers, het oor ’n lang tydperk gereeld foto’s geneem van die duidelik waarneembare agteruitgang van die spuitfontein as gevolg van genoemde faktore. Dit is gereeld by die Forum gesirkuleer en ook via ander platforms onder die publiek se aandag gebring.

Ná drie jaar is onder voorsitterskap van Gary Boshoff by die forumvergadering in Maart besluit dat ’n komitee van belanghebbendes deur Albert van der Merwe van die munisipaliteit se parke-afdeling saamgestel moet word en met ’n werkbare oplossing na die Forumvergadering in April moet kom. Veertien persone is geïdentifiseer, waaronder die verantwoordelike amptenare, lede van verfraaiings-komitee en die drie persone uit die publiek, wat deur die jare die saak gedryf het.

Hierdie komitee het na alle aspekte gekyk in met inagneming van die feit dat dit ’n erfenis gebied is. ’n Permanente en werkbare oplossing is gevind en daar is besluit dat die hele gemeenskap betrek gaan word by die beplande opgradering. Daar is ook gekyk na die versperring in die verkeersvloei as gevolg van die paduitleg en die gevare wat dit inhou en ’n werkbare oplossing is deur ingenieur Karel Lötz voorgestel. Dit behels onder meer ’n glybaan asook die plasing van ’n verkeerslig. Oor laasgenoemde het die munisipaliteit nie jurisdiksie nie en daar moet met die verantwoordelike liggaam vir goedkeuring daarvan onderhandel word .

Die munisipaliteit het gunstig reageer op dié versoeke en voorstelle via Wellington Forum. Nou word Wellingtonners betrek by dié besondere opgraderingsprojek. Dus word almal wat binne die munisipale grense woon, versoek om ontwerpe en voorstelle in te dien vir dié vernuwing. Dit sluit die fonteingedeelte sowel as die area oorkant die fontein in.

Voorstelvorms met die nodige riglyne en kriteria is by die munisipale kantoor in Pentzstraat, Wellington, asook by die Wellington Verfraaiingskomitee by Cummings Guest House, Cummingstraat 18, Wellington beskikbaar. Vorms kan ook per e-pos aangevra word by Anneline Louw by Anneline. Louw@drakenstein.gov.za of by Mattie Visser by stay@wellington-accommodation.com.Defalau.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.