Verskeie informele strukture en plakkers se bagasie is vandeesweek van die Bergrivier Boulevard af op die wal van die Bergrivier in die Paarl sigbaar. Foto: Rasaad Adams


Die Drakenstein-munisipaliteit (DM) sê hy sal eersdaags ’n multidissiplinêre optrede teen haweloses en plakkers uitvoer ná verskeie klagtes deur inwoners en sakeondernemings oor die toestand van openbare gebiede soos die walle van die Bergrivier wat voortdurend deur plakkers bemors word.

’n Inwoner het verlede week se Paarl Post in ’n lesersbrief gesê “die Paarl is in plakkersdorp in wording” weens plakkers wat hul strukture selfs naby munisipale eiendomme opgerig het.

“Reg onder die neus van die Drakenstein-munisipaliteit se hoofkantoor verrys plakkerkampe, reg in die hartjie van die Paarl. Oorkant die Paarl-polisiekantoor is daar ook reeds ’n klompie plakkers wat elke nag hier uitkamp en vure maak,” het die brief gelui.

Die leser het ook na die Bergrivier verwys en gesê “dit alles basies op die voorstoep van die munisipaliteit wat nou kamstig geken is as ’n stad van uitmuntendheid”.

Die Drakenstein-plaaswag het ook op sy beurt sy kommer uitgespreek oor die toename in plakkers in ’n beboste gebied naby die Paarl-krieketveld en het benadruk dat hierdie strukture ernstige brandgevare inhou.

“Die Drakenstein-plaaswag is reeds verskeie kere uitgeroep om te reageer op brande wat die gebied in gevaar gestel het. Hierdie voorvalle plaas nie net druk op ons hulpbronne nie, maar hou ook ’n beduidende risiko vir openbare veiligheid en eiendom in.

“Ons erken die ernstige brandgevaar wat ontstaan uit die kombinasie van lang gras en tydelike kampplekke. Met die droë klimaat in ons streek is die risiko dat brande vinnig versprei, ’n opregte bekommernis wat dringend die hoof gebied moet word,” het Daan van Leeuwen Boomkamp, die plaaswag se bevelvoerder, gesê.

Samewerking met verwante owerhede en organisasies is noodsaaklik om ondersteuningsdienste en tydelike skuiling vir behoeftiges te verskaf.
Daan van Leeuwen Boomkamp, Drakenstein-plaaswag

Hy het bygevoeg dit is van kardinale belang vir die Drakenstein-munisipaliteit en die Paarl-krieketklub om voorkeur te gee aan die instandhouding en snoei van oorgroeide gras in openbare gebiede, veral dié naby die krieketklub waar plakkers se informele strukture opgerig is.

“Brandbane kan die gevaar dat brande versprei en die omliggende gebied in gevaar stel, aansienlik verminder. Verder is samewerking met verwante owerhede en organisasies noodsaaklik om ondersteuningsdienste en tydelike skuiling vir behoeftiges te verskaf.

“Deur alternatiewe opsies te bied, kan ons plakkery ontmoedig en die potensiaal vir brandvoorvalle tot die minimum beperk.”

Eda Barnard, die munisipaliteit se waarnemende uitvoerende direkteur vir gemeenskapsdienste, het by navraag aan Paarl Post gesê ’n optrede vir die verwydering van plakkers in sekere gebiede sal eersdaags uitgevoer word.

Sy het nie gespesifiseer wat die optrede behels en waarheen plakkers geskuif sal word nie.

Behoeftige hawelose individue is ’n universele bekommernis en glad nie uniek aan Drakenstein nie. Hoewel baie organisasies probeer help, kan geïsoleerde pogings as gevolg van beperkte hulpbronne net só ver gaan.
Eda Barnard, Drakenstein-munisipaliteit

Volgens Barnard is plakkers naby die Paarl-krieketveld al by vorige geleenthede verwyder, maar keer dan net weer terug na die oorspronklike gebied.

“Behoeftige hawelose individue is ’n universele bekommernis en glad nie uniek aan Drakenstein nie. Hoewel baie organisasies probeer help, kan geïsoleerde pogings as gevolg van beperkte hulpbronne net só ver gaan.

“Die Drakenstein-munisipaliteit se afdelings vir maatskaplike ontwikkeling, wetstoepassing en afvalbestuur het by verskeie geleenthede gesamentlike optredes gedoen om hawelose individue in te lig en by sakepersele, openbare gebiede en rivieroewers te ontruim en hulle na nabygeleë skuilings te verskuif,” het Barnard gesê.

Drakenstein het tans slegs een aktiewe nagskuiling vir haweloses in Wellington, wat deur ’n liefdadigheidsorganisasie bestuur word.

Hoewel sy nie ’n tydlyn daarvoor gegee het nie, het Barnard vandeesweek gesê die munisipaliteit is in die finale fase van nog ’n nagskuiling wat in die Paarl sal open.

You need to be Logged In to leave a comment.