Drie plaaswerkers oefen hard aan hul droom om volgende jaar aan die Comrades deel te neem.

Jacquin Koopman, Shane Fortuin en Mornay Mentoor, almal van plase in die Wellington-omgewing, het in Januarie by die Wellington-atletiekklub aangesluit maar oefen al vanaf laasjaar in die hoop om te kwalifiseer vir die Comrades-marathon wat in Mei 2017 in Durban gehou word.

Hulle sal in Oktober op Bredasdorp aan die Voet van Afrika-wedloop deelneem – ’n kwalifiserende wedloop vir die Comrades.

Koopman se seun, Michael (16), sou ook aanvanklik saam met hulle die Comrades hardloop, maar voldoen nie aan die ouderdomsvereiste nie.

Koopman sê sedert hulle vir die marathon begin oefen het, hardloop hulle elke Saterdag tussen 40 en 60 km oor verskillende roetes heen.

Op 29 Oktober word ’n opedag beplan om geld in te samel vir die atlete. Die doel van die dag is ook om ’n belangstelling vir sport onder jongmense te kweek. Die dag sal bestaan uit verskeie aktiwiteite waaronder demonstrasies deur die polisie, brandweer en ambulansdienste, asook rugby- en netbalwedstryde en toutrekkompetisies waar wenners pryse sal ontvang.

Enigiemand wat geskenkbewyse, klein koelsakkies vir kos, medaljes, waterbottels, kêppies (caps) en wisseltrofeë as pryse wil borg, kan Koopman skakel by 076 593 3424.

You need to be Logged In to leave a comment.