Plaasskool: Privaatskool

Een van die verskeie bekende plaasskole in die omgewing van Wellington wat onlangs deur die provinsiale onderwysowerhede gesluit is weens dalende leerdergetalle, het op 13 Januarie sy deure weer oopgemaak vir die omliggende plaaskinders.


Een van die verskeie bekende plaasskole in die omgewing van Wellington wat onlangs deur die provinsiale onderwysowerhede gesluit is weens dalende leerdergetalle, het op 13 Januarie sy deure weer oopgemaak vir die omliggende plaaskinders.

Die Fynbos-gemeenskapstigting wat verskeie plaasskole in die Overberg bedryf, het vanjaar tot die redding van Laerskool Blouvlei buite Wellington gekom.

Die Laerskool Blouvlei wat tot voor sy sluiting deur die provinsiale onderwysdepartement in ’n gebou van die Verenigende Gereformeerde Kerk van Wellington in die Blouvlei bedryf is, maar ’n ruk gelede gesluit het, het vanjaar weer sy deure oopgegooi as die Blouvlei Akademie, ’n privaatskool wat tans net meer as 50 leerlinge huisves en wat deur ’n span deeglik opgeleide onderwysers bedryf word.

“Die kinders wat tans by die Blouvlei Akademie skoolgaan, sou almal vanjaar in dorpskole in Wellington moes skoolgegaan het,” het Koos Smith van die Fynbos-gemeenskapstigting die afgelope week gesê.

Volgens Smith, wat in die omgewing van Stanford boer, is die Fynbos-stigting in 2005 op Stanford gestig om leerlinge wat die plaasskole daar bywoon, akademies by te staan. In 2015, toe die owerhede plaasskole begin sluit het om kostes te besnoei en plaaskinders te dwing om bestaande skole op nabygeleë dorpe by te woon, het die stigting begin om die plaasskole wat gesluit het, weer oop te stel en om die skole bedryf.

“Dis traumaties vir ’n plaaskind om skielik gedwing te word om elke dag lang afstande met ’n bus of ’n taxi af te lê om by ’n skool in ’n wildvreemde omgewig te gaan bywoon. Die landelike skole wat die stigting tans self bedryf, word onafhanklik op ’n Christelike grondslag bedryf.”

Smith sê dat Blouvlei Akademie die eerste van verskeie plaasskole in die Wellington omgewing is wat waarskynlik in die nabye toekoms weer aan die gang sal kom. Omdat die kinders wat die skole bywoon se ouers hoofsaaklik plaaswerkers is, is die onderrig by die stigting se skole heeltemal gratis. Plaaseienaars word ook die versekering gegee dat die dienste van die stigting gratis is hoewel baie plaaseienaars die werk van die stigting goedgesind is en graag finansieël help om die plaasskole in hul omgewing suksesvol te bedryf.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.