Die wind het die afgelope paar weke sterk in die sepie Suidooster gewaai met Ruiterbosch se Alwyn-apteek wat ’n nuwe apteker kry en die Juice Bar wat ’n nuwe eienaar het, maar storms woed ook oor ’n reeksmoordenaar wat verwoesting saai.
En hoewel kykers links en regs spekuleer oor wat in die sepie aan die gebeur is, kan inwoners van Drakenstein trots wees op nie net een nie, maar twee plaaslike akteurs wat in Suidooster op kykNET te sien is. Boonop is dié twee akteurs familie ook.
Die Paarliete Hein Poole (38) en Reece Poole (22) deel nie net ’n tuisdorp nie, maar hulle is ook in werklikheid familie van mekaar.
Hein, wat sedert 2020 die rol van Junaid vertolk, is in werklikheid Reece se oom. Reece het twee weke gelede sy eerste verskyning in die sepie as Farouk gemaak.
Junaid het onlangs weer sy verskyning gemaak waar hy in Ruiterbosch nou die nuwe eienaar van die bekende Juice Bar is. En net toe dit lyk asof Junaid dalk ’n nuwe liefde in sy lewe gaan kry, word sy die slagoffer van die reeksmoordenaar.
Alwyn-apteek se Abie het ook onlangs besluit dit is tyd om af te skaal, en Abie het op Farouk as die geskikte kandidaat as apteker besluit.
Reece is ’n voormalige leerder aan die Hugenote Hoërskool en het verlede jaar sy BA-graad in drama en teaterstudies aan die Universiteit Stellenbosch voltooi.
Oor hoe hy gevoel het toe hy homself die eerste keer op televisie in Suidooster sien, sê Reece hy was nog op pad huis toe ná werk toe sy vriende vir hom video’s van hom as Farouk stuur.
“Ek hou nie daarvan om myself op televisie te sien nie; ek weet nie juis hoekom nie,” verduidelik Reece.
Hy sê wel die tye waarna hy op die stel kon terugkyk nadat dit verfilm is, het die werklikheid van als by hom ingesink – veral die feit dat hy van die stel op universiteit na ’n werklike televisiestel gevorder het.
“Die uitdaging vir my was dat die karakter nie ’n moeilike karakter was nie en ek nie die rol moes oordink nie, maar dat ek die karakter so natuurlik as moontlik moet laat voorkom.”
Volgens Reece het hy die kameraadskap op die stel die meeste geniet en die ander akteurs het hom onder hul vlerk geneem en hom deel van hulle laat voel. Hy sê hy kon ook baie by hulle leer.
“My liefde vir optrede spruit eintlik uit musiekteater en televisie,” sê Reece. Hy het in sy matriekjaar ’n hoofrol in sy skool se musiekblyspel losgeslaan.
Volgens Reece is sy oom, Hein, sy eerste verwysingspunt wanneer dit by toneelspel kom.
“Ek het grootgeword met my oom wat in toneelstukke speel en later was hy skielik op televisie. Ek wens ons twee kon ook interaksie op stel gehad het, want dit sou baie cool gewees het.”
Oor of mense hom in die openbaar as Farouk herken, vertel hy dat hy dikwels sien hoe mense vir hom kyk, maar hy meen die feit dat hy sy hare in die openbaar meestal los dra, skep dit dalk onsekerheid of dit wel hy is. “Hulle kyk asof hulle my al êrens gesien het, maar nie seker is waar nie.”
Reece het nog groot drome en wil graag eendag in ’n paar films speel.
Hy is tans ook die hoofdirekteur van Elif Overklank.. Hein, ’n oudleerder van New Orleans Sekondêr, is ’n bekende op die kassie waar hy al rolle losgeslaan het in sepies soos Scandal, Arendsvlei, Sterlopers, Fynskrif en vele meer. Hein is ook sedert 2013 betrokke by Lollos en min weet dat hy eintlik Lollos is.
Ná skool het Hein dramakuns aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie studeer.
Oor sy rol as Junaid in Suidooster, oor wie kykers nou nie heeltemal seker is nie, vertel Hein dat Junaid se rol ’n baie uitdagende rol is, maar dié rol laat hom voel hy is regtig besig om met sy talent as kunstenaar te werk.
Hy vertel ook Junaid se rol het sedert sy eerste verskyning in 2020 baie verander en hy het ’n meer volwasse persoonlikheid aangeneem van waar hy destyds saam met Sylvia, die slang te sien was.
Hein sê die publiek behandel hom gewis anders.
“As hulle my iewers sien, sien hulle vir Junaid, wat baie snaaks is, want daar is definitief ’n verskil. Ek is maar net ’n akteur wat probeer om my werk na die beste van my vermoë te doen, so, wanneer mense my sien, moet hulle nie altyd net vir Junaid sien nie.
“Ek is ook maar net ’n mens wat ’n normale lewe wil lei – winkel toe gaan en sulke dinge doen.
“Akteurs het ook rolle as slegte karakters of karakters wat iets slegs doen, maar mense moet onthou dit is net die karakter en buite is dit die mens wat daar stap. Akteurs waardeer dit as mense dit respekteer.”
Weg van die kassie af beskryf Hein homself as ’n gesinsman en familiemens. Hy is getroud en ’n pa.
Hy sê sy familie is baie trots op hom en bly vir die rol wat hy as Junaid gekry het.
“Hulle is die mense wat weet watter struikelblokke ek oorkom het en hoe lank dit my geneem het om ’n rol te kry en hoe lank dit steeds neem om die volgende rol te kry.
“Party mense is gelukkiger as ander, maar vir my was dit geheel en al net harde werk, klippe kou en bloed, sweet en trane.
“Opvoedkundige en kinderteater was nog altyd ’n groot deel van my lewe,” sê Hein, wie gereeld opvoedkundige produksies by skole in Paarl en Wellington opgevoer het.
Hein meen met Reece wat basies vars uit universiteit is, is daar baie wat hulle twee nog by mekaar kan leer.
“Dit is lekker om te weet jou susterskind het dit ook gemaak met al die tyd wat hy in sy studies ingesit het en aangesien werk so skaars vir almal is, was dit ’n goeie geleentheid vir hom.
“Dit is altyd lekker om te sien mense wat alles insit, kan later die vrugte daarvan pluk.”





