Om hul 30ste bestaansjaar te vier het Hillcrest Primêr ’n spesiale diens in Bergrivier VGK gehou. Oud-onderwysers, oudleerders en huidige personeellede en ouers was almal by die diens verteenwoordig in ’n stampvol kerk.
Die ontstaan van Hillcrest Primêr het ’n interessante verloop gehad. Die eerste vers van die skoollied kom tot sy reg in ’n terugblik op die geskiedenis van Hillcrest Primêr – “In Wellington deur berge omring verrys ons skool Hillcrest Primêr”. Hillcrest Primêr het letterlik verrys, gebore uit die geskiedkundige Pauw Gedenkskool, ’n skool wat diep spore in die Wellingtonse bruin gemeenskap gelaat het. Pauw Gedenk is in 1879 gestig onder leiding van Vader Pauw.
In die tagtigerjare het Pauw Gedenkskool letterlik uit sy nate gebars – soseer so dat dubbelskof-onderrig nodig was. Dié toestand van sake kon nie reg laat geskied aan al die leerders nie. Die skool moes groter gemaak word. Daar is gekyk na die geskikste opsie om die skool te verskuif oorkant na Pentzstraat, waar daar ’n groot oop stuk grond was. Hierdie gebied het destyds bekend gestaan as Botterberg.
Die bruin gesinne wat eens hier gewoon het, is destyds verskuif gedurende apartheid se gedwonge verskuiwings. Die tagtigers was in die pre-apartheidstydperk. Die skool sou dan te na aan die destydse Hoër Seunskool wees. Die plan is dus afgekeur.
Waar Hillcrest vandag is, was destyds die Voorbereidingskool Wellington oftewel die Wellington Junior Primêr. Die destydse Onderwysdepartement het besluit dat Pauw Gedenk en die Junior Primêr moes omruil. Vir die gemeenskap was dit ’n hartseer saak. Dié skool is geleë in Blignautstraat in Peyton Place, ’n woonbuurt wat in die sestigerjare tydens die gedwonge verskuiwings gestig is.
Wellington Junior Primêr het ook oor genoegsame grond beskik vir die nodige uitbreidings wat nodig sou wees. Die groot eksodus vanaf Pauw Gedenk in Mellingstraat het in Januarie 1987 plaasgevind en die nuwe skool, Hillcrest Primêre Skool, het verrys. Onderwysers, leerders en voorrade het in massa na Hillcrest getrek om ’n nuwe skool met ’n nuwe karakter te begin met ’n nuwe skoolhoof, naamlik A. S. Petersen.
Rosaline Williams, gebore Driver, is die langste aan die skool verbonde Op 7 April 1981 het Rosaline Driver op 19-jarige ouderdom haar loopbaan aan die destydse Wellington Voorbereingskool as eerste sekretaresse begin, waar sy onder die prinsipaal CM Murphy gewerk het.
Williams beskryf hierdie jare as volg: “Die personeel was net dames. Die enigste mans was die drie skoonmakers. Dit was ook in die tyd van ’n skoolklok wat lui, tikmasjien wat kletter en ’n afrolmasjien wat rol. Ook hier was daar middagskofte as gevolg van die tekort aan klaskamers.
“Die Groot Trek op 1 Januarie 1987 was vir my ook ’n nuwe begin onder die nuwe skoolhoof A. S. Petersen, wat Hillcrest Primêr tot ’n volwaardige skool moes opbou.”
Williams beskryf Petersen as ’n persoon met goeie menseverhoudinge en saggeaard, lief vir musiek en skoolkore. Hillcrest het verrys as ’n skool wat op verskeie gebiede presteer het – akademies, sport en kultuur.
In 1994, die jaar van die eerste demokratiese verkiesing in Suid-Afrika, is Petersen opgevolg deur Japie Adams. Hy het die skool deur al die daaropvolgende stadiums gelei tot en met sy aftrede aan die einde van 2009. Hillcrest het onder sy bekwame leiding gegroei en steeds op verskeie gebiede presteer, soos met hul trompoppies, skaak, sport, die Soul Buddyz, ens.
Terence de Jongh is die derde skoolhoof by Hillcrest Primêr en volgens Williams, is die skool tans weer geseën met ’n baie goeie leier. De Jongh het ook nuwe veranderinge aangebring soos kantore vir die adjunkhoof, die sekretaresse, ’n raadsaal, afrolkamer en boekkamer, asook ’n interkomstelsel.
Williams onthou veral sêgoed van verskeie van die skoolhoofde:
“Hou maar die klippie in die mond – as iemand dalk ’n kragwoord wou gebruik.
“Aan jou voorbek kan ek sien wie jou familie is.
“Jy is met die helm gebore, wanneer leerders onmoontlike streke aanvang.
“Met alle respek gesê . . .
“Kollegas, ek stel dit omonwonde . . .
“Kollegas, kom ek verduidelik dit vir julle . . .”