Hier saam met Francois Nel (regs) by die prysoorhandiging is Gerrit Nel (Import Export Experts).


Die Wellingtonse sakeman Francois Nel het Donderdag 8 Augustus ’n prys van die Kaapse Kamer van Handel en Nywerheid ontvang.

Dié geleentheid is by die sakekamer se kantoor in Martin Hammerschlagweg in Kaapstad gehou.

Die sakekamer erken met dié prys Nel se onderneming as ’n eerlike en deursigtige instelling. Nel se onderneming spesialiseer in in- en uitvoerkonsultasie en -strategieë. Hy het in Mei vanjaar besluit om sy eie maatskappy genaamd Import Export Experts te stig.

Nel het 17 jaar in die in- en uitvoerbedryf gewerk en sê hy het keelvol geraak vir oneerlike sakepraktyke en swak diens in die hedendaagse ekonomiese landskap.

“Diens is deesdae alles, en mense moet kyk dat hul ondernemings deursigtig, eerlik en opreg is,” vertel hy. “Maatskappye wat net R10 uit iemand wil maak, sal altyd bestaan,” voeg hy by en verduidelik ondernemings moet eerder daarop fokus om hul kliënte vir hul diens of produk te laat terugkeer.

Nel glo ook dat maatskappye mense in hul gemeenskappe moet ophef en sê dit is veral in die Boland van toepassing omdat dié gebied ’n hoë werkloosheid­syfer het. “Dit is tyd om na mekaar te luister en meer positief te dink,” sê hy. Hy hits sakelui aan om mense ’n geleentheid te gee en om ’n pad saam met hulle te stap.

“Bestuurders moet nie gevrees word nie, maar eerder gerespekteer word,” sê hy en verduidelik dat bestuurders saam met die werksmag moet wees en nie teen hulle nie. “Vat dit stap vir stap en wees saam met mense van begin tot einde,” sê Nel.

“Dit is tyd dat sake-eienaars mekaar meer vertrou en netwerke begin bou,” meen hy. Hy verduidelik dié netwerke sal ’n bydrae tot doeltreffende probleemoplossing lewer en tot geleenthede lei soos byvoorbeeld om vir iemand ’n voertuig te leen as hul voertuig gebreek het of om verwysings vir produkte of dienste te kry.

Hy is ook van mening dat mense nie meer weet wat die waarde van geld is nie. Hy sê hy het in vakansietye as ’n jong man by die Kaapstad-hawe sonder vergoeding gewerk omdat hy wou leer hoe die uitvoer van vrugte werk. Hy sê mense moet bereid wees om geleenthede aan te gryp. “Rol jou moue op, volg jou passie en jy sal suksesvol wees,” sê hy.• Francois Nel, an import/export business owner from Wellington, received an award from the Cape Chamber of Commerce and Industry. The award recognises Nel’s business as an honest and transparent institution. He argues business in the Boland needs to be revised to be more honest and trusting to help each other.

You need to be Logged In to leave a comment.