Adam Petersen, alombekend as “Oom Ampie”.


Die rugbylegende Adam Petersen van die Paarl is verlede Vrydag (17 November) oorlede.

Dit volg nadat hy verlede jaar as ’n lewende legende in die plaaslike rugbygemeenskap vereer is.

“Oom Ampie”, soos wat almal hom geken het, was 86 jaar oud en is oorlede weens longkanker.

Toe Paarl Post verlede jaar met Oom Ampie gesels het, was hy baie opgewonde dat ’n rugbybeker na hom vernoem is. ’n Jaar later slaan sy woorde diep: “ ’n Mens kan nie beskryf hoe jy voel as iemand jou wil vereer terwyl jy nog lewe nie. Die dinge gebeur altyd wanneer jy dood is. En natuurlik voel ek baie trots. So lank as wat ek lewe, sal dit by my bly.”

Oom Ampie was vir amper sewe dekades betrokke by en toegewyd tot plaaslike rugby in die Paarl. Hy was 16 jaar oud toe hy vir die Blues-rugbyklub begin rugby speel het. Maar toe Oom Ampie as ’n rugbyspeler uittree, was dit nie noodwendig die einde van sy betrokkenheid by Blues nie. Hy het nog tot onlangs as dié klub se president gedien.

In sy jonger dae het Oom Ampie by ’n kombersfabriek gewerk, asook by British Nylon Spinners in Bellville. Hy was baie trots op die feit dat sy vier seuns en selfs twee kleinseuns ook vir Blues gespeel het.

Met sy dood is Oom Ampie se boodskap aan die jeug – veral diegene met ’n groot belang in rugby – nog meer treffend. Hy het die jeug bemoedig om betrokke te bly sodat hulle uit die moeilikheid bly en vir hulself ’n goeie toekoms kan bou.

“Wat ek vir hulle kan sê, is dit gaan nie net oor rugby nie, dit gaan daaroor om aan sport deel te neem. Want as jy aan sport deelneem en jy vat dit ernstig op, dan vergeet jy van die onheil en dinge wat buite gebeur. Jy is net tussen jou sportmense. Konsentreer op die sport wat jy beoefen en doen dit goed en los die ander goed soos die dwelms en drank.”

Thomas du Plessis, Blues se sekretaris, beskryf Oom Ampie as ’n ware staatmaker.

’n Gedenkdiens vind vanaand om 19:00 by die St. Stephen’s kerk in New Orleans plaas. Die begrafnis vind Saterdag om 12:30 by dié kerk plaas.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article