Die 21-jarige Kim Patton van Paarl-Oos het vir ’n paar jaar reeds geweet wanneer sy die dag sterf, wil sy haar organe skenk en so moontlik iemand anders se lewe red.
Maar verlede jaar het sy – terwyl sy nog lewe – ’n verskil in iemand se lewe gemaak.
Patton vertel sy het verlede jaar aanlyn navorsing gedoen oor hoe om as orgaanskenker te registreer toe sy op die Sunflower Fund, nou bekend as DKMS Africa, afgekom en besluit het om eerder daar as bloedstamselskenker te registreer.
Kort voor lank het DKMS Africa haar gekontak en ingelig dat sy heel waarskynlik ’n pasmaat vir ’n jong meisie in Duitsland is.
Volgens Patton het sy nie baie besonderhede oor die pasiënt nie – net dat sy tussen 16 en 18 jaar oud is en aan leukemie ly.
“Ek was verskriklik opgewonde toe ek die oproep kry, maar het terselfdertyd nie geweet hoe om dit te hanteer nie. Ek het daarna kalm geraak en besef dit is ’n baie groot besluit, maar ek wou wel voortgaan met die skenking.”
Sy verduidelik sy moes eers vir bloedtoetse gaan om seker te maak dat sy wel ’n geskikte skenker is en sy is ook getoets vir enige oordraagbare siektes. “Toe ek daarvoor registreer, het ek aanvanklik gedink dit is die soort skenking waar hulle die stamselle direk uit jou beenmurg trek, maar hulle het my mooi verduidelik dat dit nie dieselfde proses is nie.”
’n Dag voor die skenking het Patton weer bloed laat trek sodat ’n stamseltelling gedoen kon word.
Volgens Patton het haar gevallebestuurder haar geweldig ondersteun en al die stappe verduidelik en haar die dag toe die stamselle geoes word, selfs tot by die hospitaal vergesel.
“Ek was nie bang nie, maar wat ek wel kan sê, is danksy die proses wat DKMS Africa gebruik om die stamselle te oes, het jy nie nodig om bang te wees nie. Newe-effekte kan wel voorkom, maar stel nie jou lewe in gevaar nie, en dit is ’n redelik pynlose proses.”
Sy sê haar gevallebestuurder het aan haar verduidelik dat iemand net twee keer in sy of haar lewe bloedstamselle kan skenk, en ná die eerste skenking, indien alles vlot verloop en die pasiënt gesond geword, word jy vir twee jaar op ’n bloklys geplaas vir ingeval die pasiënt weer ’n skenking nodig het.
Patton sê minder as ’n jaar later het die pasiënt weer ’n skenking nodig gehad omdat sy verswak het. DKMS Africa haar gevra of sy bereid sal wees om weer ’n skenking te doen, en Patton het ingestem.
“Om te kon skenk het nie baie van my gevat nie, maar dit beteken vir my baie dat ek ’n verskil in iemand anders se lewe kon maak.”


