Die Paarlse radiodrama-skrywer en filmvervaardiger Martyn le Roux se debuutfliek, Die Pelsloper (The Skinwalker), pronk met talle toekennings wat die afgelope paar jaar by internasionale filmfeeste verwerf is.
Le Roux, ook ’n onderwyser aan die Hoërskool Labori, het die filmmaatskappy Paragon Cinematic in 2017 op die been gebring om plaaslike nuwe talent te ontgin.

Die verfilming van Die Pelsloper, ’n opvolg van Le Roux se radiodrama Bloedlyn, is oor twee jaar in die Tankwa Karoo en die Paarl-en Wellington-omgewing verfilm.
Volgens Le Roux is hoofsaaklik nie-professionele akteurs uit die Paarl en Wellington gebruik.
Hy sê Die Pelsloper is as amptelike vertoonfliek by talle internasionale filmfeeste oor die wêreld heen gekies en is met nie minder nie as 13 pryse bekroon. Die rolprent het onder meer drie toekennings vir beste drama by die Golden Harvest-fliekfees in Japan, die Masters of Cinema in Rome en die Tokio-fliektoekennings in Japan ontvang. Die rolprent het ook pryse vir beste musiek (twee toekennings), beste aktrise (drie toekennings), beste vollengte rolprent, beste eerste rolprent, beste klankbaan en nog ander uit Italië, Rome, Amsterdam, Rusland, Griekeland, Kanada en die VSA gewen.
Volgens Le Roux word Die Pelsloper onder ’n 10-jaar-kontrak met Global Cinema Online op die internet uitgesaai.
“Dit is nog nie plaaslik vertoon nie, maar die publiek sal die unieke verhaal en rolprent binnekort gratis op die Youtube-kanaal kan sien en beleef.”
Le Roux, wat vroeër jare as joernalis by Paarl Post gewerk het, het Bloedlyn (een van sy skryfstukke) in 2014 aan RSG gestuur as ’n inskrywing vir ’n kompetisie. Dit is ’n gruwelverhaal wat in die Boland afspeel. Hy het dit aangepas en in ’n radiodrama omgeskep, waarna dit as een van die finaliste vir die RSG-kompetisie aangewys is.
“Die uitsending, onder leiding van Renske Jacobs, is toevallig op ’n volmaanaand in November van 2015 gedoen – ’n ideale atmosfeer vir ’n weerwolfstorie! Die reaksie was oorweldigend, en die res geskiedenis,” het Le Roux gesê.
Bloedlyn is bekroon vir beste teks vir ’n drama en Le Roux is bekroon met twee gesogte ATKV-mediaveertjies. Die jaar daarna is hy weer bekroon met nog ’n mediaveertjie vir Die dagboek van ’n wurm. Dié drama is ook vir talle ander afdelings benoem en het mediaveertjies vir beste teks, beste regie en beste akteur in ’n radiodrama gewen. Sy radiodramas het ook twee keer die gesogte Liberty Radio-pryse vir beste radiodrama aan RSG besorg vir albe Bloedlyn en onlangs ook Bloedmaan. ’n
Daarna het talle benoemings vir van sy ander werk gevolg, en nog mediatoekennings het hierna uit sy pen gevloei.
Tans is twee ander produksies, Die Soutwaterheks (’n reeks van 25 episodes) en Dryfhout (’n enkel-radiodrama) ook gratis op Youtube beskikbaar om gratis te kyk en na te luister.
’n Tweede rolprent, Twilight Journey, word in Oktober in die Karoo verfilm en sal ook vir die internasionale mark bestem wees.
Le Roux se besonderse bydraes tot die Afrikaanse drama word tans in die Afrikaanse Kontemporêre Drama-argief (AKDA) se argiewe bewaar. Le Roux het sy BA in drama en toneelkunde in 1982 aan die Universiteit van die Vrystaat verwerf.
Hy was in die jare daarna intensief betrokke by verhoogproduksies as speler en of regisseur.
Vir meer inligting oor van sy produksies, besoek gerus www.pcssm.co.za


