Getruida (Gerty) Ryan is 30 Desember weens komplikasies met haar niere oorlede.Foto: Verskaf


Getruida (Gerty) Ryan, die gospelsangeres van Klapmuts wat gedoop is as die “Pinkster Mamma” onder die Christelike gemeenskap van die Wes-Kaap, is kort voor Nuwejaar dood weens nier-komplikasies.

Ryan het deur die jare heen die verhoog gedeel met bekendes in die gospelmusiekbedryf, soos Simon Seekoei, Dumisani, Veronica Meyer, Dr Tumi en Benjamin Dube.

Sy het ook in Mei 2021 ’n verskyning gemaak op die gewilde kykNET-program Koortjies met Jonathan Rubain.

Ryan (heel regs) verskyn in Mei 2021 op die gewilde kykNET-gospelprogram Koortjies met Jonathan Rubain.Foto: Verskaf

Haar familie sê sy sal onthou word vir haar bydrae tot die Christelike musiekbedryf asook die positiewe invloed wat sy op veral die Klapmuts-gemeenskap gehad het.

Ryan is gebore in Klapmuts waar sy haar laerskoolloopbaan by Klapmuts Primêr voltooi het.

Sy het aan die Scottsville Sekondêre Skool gematrikuleer.

Almal het haar geken. My ma was werklik iemand wat altyd mense deur haar musiek nader aan God probeer bring het.

Theodore Cloete, Gerty Ryan se seun

Theodore Cloete, haar seun, het vandeesweek aan Paarl Post gesê sy ma se dood laat nie net ’n leemte in die familie nie, maar ook die Klapmuts-gemeenskap as ’n geheel.

“Almal het haar geken. My ma was werklik iemand wat altyd mense deur haar musiek nader aan God probeer bring het.

“In Klapmuts was sy beslis geen vreemdeling nie. Dit is hier waar sy werklik ’n verhouding met die gemeenskap gehad het – ongeag wie jy was.

“Ek kan onthou hoe my ma begrafnisdienste vir mense gereël het, mense wat ons skaars geken het. Maar dit was haar manier om iemand in die regte rigting in te stuur. Sy het sterk gestaan in haar geloof,” vertel hy.

Cloete sê sy ma het ’n paar jong opkomende gospelsangers onder haar vlerk gehad.

“Dit is een van die redes hoekom hulle haar die ‘Pinkster Mamma’ van die Wes-Kaap gedoop het. Sy het haar gawe in ander mense, spesifiek die jeug, geploeg. As sy konserte gereël het of na geleenthede genooi is, sou sy selfs haar eie verhoogtyd kortknip en vir die jongmense die geleentheid gee om vir ander te wys wat daar in hulle steek.”

Gerty Ryan en Karin Kortje

Ryan en die sangeres Karin Kortje (links) wie die derde seisoen van Idols Suid-Afrika gewen het.

Hy sê sy ma het toe later gestudeer om ’n pastoor te word.

“In die laaste paar jaar het sy dit ’n jaarlikse instelling gemaak om op haar verjaardag ’n gospelkonsert in Klapmuts te reël. Dit was iets waarna mense vanuit die hele provinsie gewoonlik baie uitgesien het.”

Kevin Booysen, ’n musikant en lid van die Dumisani-musiekgroep, het in ’n Facebook-inskrywing hulde aan Ryan gebring.

“In haar siekte, toe ek my seun verloor het, kom sy na die roudiens toe. Sy druk my op my skouer sonder aandag te soek en sê ek moet sterk wees. Daar was nooit ’n dull moment met haar nie.

“Ja, ek huil vandag vir haar. Sy gaan gemis word. Sy’s meer as net ’n sangeres of ’n pastoor. Sy was ’n ster,” lui Booysen se Facebook-inskrywing.

’n Gospelkonsert ter nagedagtenis van Ryan is reeds Sondag (7 Januarie) op die Klapmuts-sportterrein gehou.

Ryan sal Saterdag ter ruste gelê word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article