Met nóg ’n jaar wat einde se kant toe staan, is dit die perfekte tyd om asem te skep en die volmaan op ’n heerlike somersaand Vrydag 11 November op die pragtige Paarlberg van nader te bekyk.
Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) nooi jou uit om die aand onder die maan te geniet.
Ter ondersteuning van die Sentrum vir astronomiese erfenis se projek om inheemse name vir volmane in Suider-Afrika te bevorder, word hierdie piekniek aan die Melkmaan gewy. Dit verwys na die feit dat suiwel nog altyd ’n belangrike bron van proteïene vir onder meer die Khoekhoen was.
Die pieknieks is baie gewild onder plaaslike inwoners en toeriste, wat veral die sonsondergang en pragtige naguitsig van die vallei geniet. Gaste kan enige tyd tussen 17:00 en 22:00 kom piekniek hou en die monument, ’n simboolgelaaide beeldhouwerk sonder weerga, besigtig. ’n Gratis begeleide toer om dit alles te verduidelik, vind om 18:30 plaas. Besoekers word ook aangemoedig om die omgewing en tydelike uitstallings te verken. Buitelug-speletjies en speelparke is vir die kinders beskikbaar.
Genoeg veilige parkering is gratis.
Gaste is welkom om hul eie pieknieks en drankies (geen glas) te bring of vooraf ’n piekniekmandjie by die ATM Koffiehuis by 082 216 2510 of info@atmkoffiehuis.co.za te bestel. Die koffiewinkel sal ook verversings by die geleentheid verkoop.
Onthou warm klere en ’n flits.
Die piekniekreeks word aangebied ten bate van ‘Laat ons Lees!’, die Taalmonument se geletterdheidsprojek vir kinders. Piekniekgangers word gevra om nuwe of tweedehandse kinderboeke ter ondersteuning te skenk.
Toegang beloop R40 per volwassene, R10 vir SA studente, pensioentrekkers en kinders, en is gratis vir kinders onder ses jaar asook jaarpermithouers. Kaartjies is te koop by Computicket of die hek. Geen besprekings is nodig nie.
Meer oor die Sentrum vir astronomiese erfenis is beskikbaar by cfah.org.za. Die volgende Volmaanpieknieks is op 10 Desember (met Kersvader!) en weer in 2023 op 7 Januarie, 4 Februarie en 4 Maart.. Vir meer inligting oor al die ander opwindende geleenthede, konserte en kursusse by die Taalmonument en -museum, skakel 021 872 3441/863 0543, besoek taalmonument.co.za of volg ATM op Facebook. Die webtuiste bied virtuele toere van die monument en museum, inligting in ses tale oor die simboliek van die Taalmonument asook baie interessante artikels oor Afrikaans, veeltaligheid en die instelling se verlede, hede en toekoms.

