Die 24 Paarl Gimnasium-atlete het hulle in die onlangse SASA SA hoërskole-atletiekkampioenskap puik van hul taak gekwyt en saam die meeste medaljes van alle skole in die Wes-Kaap gewen.
Die kampioenskap het op ’n hoë noot begin toe Nicus van Coller Paarl Gimnasium se eerste goue medalje in die paalspring vir o.17-seuns gewen het. Dit is vinnig opgevolg deur Jaden van der Linde wat die o.15-paalspring gewen het en Pierre Dreyer wat die silwermedalje in dieselfde item ontvang het.
Die meisies het daarna gespring en Sumari Rademeyer is as SA o.17-skolekampioen gekroon. Ná haar het Carina van Wyk ’n puik hoogte van 3.40 m gespring, wat hoër is as die SA skolerekord. Sy het in die proses die silwermedalje verower.
Terwyl die paalspring aan die gang was, het Anja Smit, ’n graad 8-leerder, puik in die hoogspring vir o.15-meisies vertoon en die kompetisie met ’n persoonlike beste sprong van 1.64 m gewen.
Clemond Nel het terselfdertyd ’n silwermedalje in die 110 m-hekkies vir o.17-seuns ontvang en die dag is afgesluit met Jeerahno Jagers, wat ’n silwermedalje as deel van die Wes-Kaap se o.15-1 000 m-wisselaflosspan verower het.
Die laaste dag het begin met PG se atletiekkaptein, Rocco Nortje, wat die diskusgooi vir o.19-seuns met ’n pragtige afstand van 55.06 m gewen het.
Clemond Nel het sy tweede medalje vir die kampioenskap verower toe hy die 400 m-hekkies vir o.17-seuns in ’n skittertyd van 52.26 gewen het.
Migail van Huyssteen het goud in die paalspring vir o.19-seuns gewen, waarna Jeerahno Jagers Paarl Gimnasium se twaalfde medalje – goud – as deel van die o.15- 4 x 100m-span gewen het.
Die feit dat 10 van Paarl Gimnasium se 12 medaljes in individuele items verower is, en nie net as deel van aflosse nie, bevestig die gehalte en diepte van die skool se atlete. Buiten vir die 12 medaljewenners het die res van Paarl Gimnasium se atlete ook puik presteer. Nie minder nie as 14 ander prestasies was onder die top-8-posisies. Dit bring die algehele top-8-prestasies op 26 te staan.
Altesaam 28 Gimmies verskyn ná die SA Skolekampioenskap op die nasionale ranglys onder die top-10-atlete in hul items.
Baie geluk aan elkeen van hierdie atlete en hul afrigters en sterkte aan die 32 PG-atlete in die ASA SA junior kampioenskap in Potchefstroom.





