Peta Malan (31) se liefde vir tuinmaak het in haar kinderdae begin waar sy baie oor boerdery en plante op haar ouers se plaas buite Wellington geleer het. Vandag is tuinmaak vir haar ’n veilige hawe.
Peta werk al byna ’n dekade in die reklamebedryf in Kaapstad en toe die inperkings toeslaan, het sy al haar vrye tyd op haar groentetuin in haar agterplaas toegespits.
Sy het aanvanklik haar Backyard Boerdery-blad op Instagram (@backyardboerdery) begin om deur middel van foto’s rekord te hou wanneer sy wat geplant het, maar toe talle mense via haar blad na haar uitreik, het sy besef haar blad op Instagram kan veel meer beteken as net iets waar sy dagboek hou.
Peta, ’n oudleerder van Hugenote Hoërskool, vertel dat al twee haar oorlede oupas geboer het, asook haar pa, wat steeds ’n wyn- en wingerdstokkie-boer is, en sy meen dit is juis by hulle by wie sy haar liefde vir tuinmaak en om plante te kweek, geërf het.
Peta se ouers boer op ’n wynplaas buite Wellington en sy was reeds van ’n jong ouderdom af aktief betrokke by die daaglikse werksaamhede op die plaas.
Sy onthou wortels was haar eerste saadjies wat sy as kind gesaai het, en vandag spog sy met ’n groot verskeidenheid vars produkte uit haar tuin.
Peta sê sy het al “verskriklik baie” van tuinmaak geleer, en sedert sy meer oor die “no-dig”-metode geleer het, grawe en spit sy baie min in haar tuin.
“Ek het ook belangrike lesse geleer oor die belangrikheid van deklaagbewerking, veral in Wellington se uiterse hitte in die somer en die koue, nat winters.”
Sy het ook onlangs begin navorsing doen oor die gebruik van voordelige insekte ten opsigte van plaagbeheer in haar tuin.
“Ek probeer dit nou met verskeie insekte wat ek vrylaat om te help om plae natuurlik te beheer. Dit is baie interessant, en ek glo nie die leerproses sal ooit eindig nie.”
Volgens Peta het sy nog nie produkte uit haar tuin verkoop nie, maar sy deel graag haar oeste met haar ouers en vriende.
“As ek byvoorbeeld ’n bedding skoonmaak en te veel van iets pluk, probeer ek altyd om dit te preserveer of te piekel. En dan kry die wurmplaas en die komposhoop die laaste stukkies wat ek nie kan gebruik nie,” vertel sy.
Sy sê sy geniet dit baie om te sien hoe ’n saad waarna jy lank gesoek en dan in die hande gekry het, ontkiem.
“Dis die beste gevoel om te weet jy begin iets van ’n klein saadjie af kweek, om dit dan ’n paar maande later te oes. Dit smaak soveel beter as winkel-groentes en sommige plante soos soetrissies, brandrissies, eiervrug en vrugtebome kan jare lank bly groei en oeste lewer!”
Soos met enigiets wat ’n mens aanpak, beleef Petra ook uitdagings.
“Aanvanklik het ek baie met kruipmolle gesukkel. Dit het gelei na die Rain Queen Planters, waarvan ek nou ses het. Ek voer die onderkant met ogiesdraad uit om die molle te keer sodat hul nie in my beddings kan opkom en die wortelstelsels van my plante verniel nie.”
“My twee honde is ook maar ’n daaglikse uitdaging om uit plekke te hou waar hulle nie mag in nie, maar hulle is die meeste van die tyd darem soet – behalwe soms wanneer ek iewers ’n massiewe gat moet toegooi!” lag sy.
Deur voortdurend nuwe maniere te vind om te plant, en alles in haar tuin te gebruik, is dit duidelik dat tuinmaak Peta se siel koester en haar ’n ander uitkyk op die alledaagse lewe anders gee.
Sy sê ook haar tuin is soos haar beste vriend – amper soos om ’n hond te hê. “Maar in plaas daarvan om drukkies en liefde te kry, kry ek wortels, beet en blaarslaai.”


