Paarl Post bied skole in die Drakenstein maandeliks die geleentheid om ’n voorbeeldige leerder van die skool te benoem om as Pêreltjie van die maand te pronk.

Wie is jy en hoe oud is jy?

Ek is Nina Moggee en ek is 16 jaar oud. Ek verjaar 4 Augustus.

Wat is jou skool se naam?

Ek is in graad 10 aan Hoër Meisieskool Paarl.

Wat doen jy om te ontspan?

Vir ontspanning draf ek graag, lees ’n boek of luister na Christelike musiek.

Watter soort mens is jy?

Ek is nie juis naweke die grootste sosiale vlinder nie, maar ek is ongelooflik lief vir mense. Ek hou daarvan om met meisies te gesels oor wat hulle pla en saam met hulle ’n pad te stap om God se droom vir hulle te leer ken. Ek is nie gaande daaroor om oor myself te skryf of te praat nie, maar my vriende beskryf my as iemand met ’n omgeehart, vriendelike gesindheid en selflose karakter.

Waarvan hou jy nie en hoekom?

Ek hou nie daarvan as iemand onopreg optree nie. Ek glo as ’n mens iets doen, dat dit werklik uit die diepte van jou hart moet kom.

Waarna streef jy te alle tye?

Ek streef te alle tye daarna om God se dissipel te wees waar ek gaan of waar ek tans is. Ek streef daarna om dieper te kyk as die oppervlakkige beeld waarmee leerders skool toe kom. Só bou ek ware verhoudings, besef ek die werklike swaarkry waardeur medeleerders gaan en bied ek vir hulle ’n oor wat luister, ’n skouer om op te huil en iemand wat vir hulle bid.

Van watter soort musiek hou jy?

Ek is gaande oor One se Christelike album asook French Café-musiek.

Wat gaan jy ná skool studeer?

Hieroor is ek nog onseker, maar ek glo die Here sal my lei en vir my kom wys wat Sy droom en plan vir my lewe is. Hy het my nog nooit in die steek gelaat nie en al Sy planne vir my was nog net goed en ver bo my menslike verstand. Daarom vertrou ek Hom ook met my toekomsrigting.

Watter waardes en norme pas jy in jou lewe toe en hoekom?

My nommereenwaarde is absoluut liefde. Liefde is vir my ’n leefwyse wat alle waardes en norme saamvat. Ek het al besef dat liefde iets is waarna almal in die lewe streef. Deur liefde te gee aan juis dié wat dit nie verdien nie, lei ons mense na God se hart toe.

Hoekom het jy hierdie skool gekies?

Ek is baie lief vir hokkie en hierdie skool het goeie geleenthede. Daarom het ek in graad 7 gekom vir ’n onderhoud en die ongelooflike waardes en karaktereienskappe van die skoolhoof ervaar. Sy is ’n ongelooflike leier en ek wou graag gelei word deur iemand soos sy.

Noem enige prestasie wat jy al behaal het?

Ek het vanjaar vir ons skool se eerste span hokkie gespeel en gaan ons skool se Impact (dit is die periode waarin leerders gesels en deel oor hul godsdiens) volgende jaar lei.

Wat is jou gunstelingvakke op skool en van watter vakke hou jy nie so baie nie?

My gunstelingvakke is fisiese wetenskappe en wiskunde, maar eintlik is ek gaande oor al my vakke, behalwe lewensoriëntering.

You need to be Logged In to leave a comment.