Die wenner van die jaarlikse Babylonstoren- Perdeskoen-tuindagkompetisie was Jan en Gerda Kanfer – die derde agtereenvolgende jaar. Op die foto vier Jan en sy gesin saam hul pragtige tuin.Foto: Dwayne Senior


Gesinne van die Perdeskoen-gemeenskap op Babylonstoren het saam met duisende mense reg oor Suid-Afrika heen hul groen ruimtes die afgelope op Sondag (20 Oktober) saam met bure, familie en vriende vir die negende jaarlikse Tuindag gevier.

Hierdie jaarlikse viering moedig alle Suid-Afrikaners aan om tuis te bly, ’n blommekroon te dra en hul tuine en groen ruimtes saam te vier.

Tuindag is deur ’n groep entoesiastiese tuiniers tot stand gebring om mense oor Suid-Afrika heen aan te moedig om deur hul groen ruimtes – hoe groot of klein ook al – met mekaar te verbind en dit saam te vier.

Plaaslik is een van die hoogtepunte van die dag die jaarlikse Perdeskoen-tuindagkompetisie. Hierdie kompetisie is ’n hoogtepunt op die Babylonstoren-kalender, en 2024 se wentuine weerspieël trots die positiewe energie en motivering van die plaaslike gemeenskap om pragtige, uitnodigende en sielvolle ruimtes te skep.

Babylonstoren is ’n wynlandgoed in die Kaapse Wynlande; internasionaal bekend vir sy asemrowende tuine.

Jan en Gerda Kanfer het vanjaar die derde agtereenvolgende keer die eerste plek vir hul pragtige tuin met sy pekanneutboom losgeslaan.

“My oupa was ’n uitstekende tuinier. Ek het baie tyd saam met hom deurgebring en by hom geleer. Baie mense sê ek het sy groenvingers,” sê Jan.

“My tuin is vol verskillende blomme, vrugtebome en kruie, en dit het ’n verlenging van my huis geword – ’n ruimte waar my gesin en ek saam tyd kan deurbring.”

Die Babylonstoren se plaaswerkers­huisies is in die vorm van ’n perdeskoen gebou, rondom die groen velde van die landgoed, wat aanleiding gegee het tot die naam van hierdie jaarlikse kompetisie, wat in 2013 begin is. Dit is oop vir al die inwonende werknemers en moedig deelname aan deur ’n maklik bereikbare doelwit te stel vir almal wat deelneem. Deelnemers word beoordeel volgens vyf eenvoudige afdelings – netheid, kleur, ontwerp (byvoorbeeld ’n paadjie, sitruimte, houtstapelruimte, gebruik van die tuin vir ontspanning of sosiale samesyn), gebruik vir voedsel en/of medisyne, en bome.

Die deelnemers se pogings om prentjiemooi, netjiese tuine te skep het die gemeenskap gemotiveer en mense geïnspireer om hul eie groen ruimtes te kweek, wat ’n gevoel van trots en positiewe energie in die dorp as geheel gebring het. Alle deelnemers ontvang ’n boom vir hul tuin, en oor die jare word die groei daarvan, saam met die ander bome wat hulle geplant het, waardeer en bewonder.

Let wel: ’n tuin kan net so eenvoudig soos ’n pragtige boom wees!

Jan wy elke Tuindag aan ontspanning en die viering van sy bekroonde tuin, maar hy bring saans – nadat hy van die werk af kom – ook baie tyd in sy tuin deur. “Dikwels is my vrou al in die tuin wanneer ek by die huis kom, en ons seun bring sy vriende saam om te speel, dus is dit regtig ’n ruimte wat ons almal saam geniet,” sê Jan.

Vir Ronel en Jumat Lewies is hul tuin hul lewe, en hulle het hard gewerk om iets spesiaal en uniek te skep.

“In my tuin sal jy ’n heerlike verskeidenheid plante vind – en vrugte en groente. Ek hou persoonlik baie daarvan om pruime te kweek; dit is my absolute gunsteling. Daar is iets besonders daaraan om hierdie vrugte te versorg en langs groente te sien groei,” sê Jumat.

“Wat ek regtig van my tuin koester, is die liefde wat dit bring. Dit is ’n gemaklike ruimte waar ek en my gesin kan bymekaarkom en mekaar se geselskap kan geniet. Onder my gunsteling-plante is vetplante; hulle is ongelooflik veerkragtig en simboliseer krag in my tuin.”

You need to be Logged In to leave a comment.