Een van vele perdeby- neste wat Eduanne Niemand verwyder.


Die indringer- Europese perdebye is vanjaar vroeër terug as gewoonlik omdat die afgelope winter nie koud en nat genoeg was nie, sê ’n plaaslike slangvanger.

Eduanne Niemand verwyder die neste van die indringer-perdebye wat ’n groot bedreiging vir heuningbye is.

“Gewoonlik, as neste nie in die winter afgehaal word nie, kruip die perdebye agter die neste weg en die larwes gaan in ’n winterslaap, en dan vrek die larwes in die koue. Omdat dit koud en nat is, vrek die volwasse perdebye ook, maar omdat ons nie ’n koue en nat genoeg winter gehad het nie, het baie van die perdebye oorleef. Mense het my al einde September begin bel en gesê perdebye broei by hul huise. Die groot opvlam van perdebye begin Desember. Ek spuit elke dag van die week neste by ses huise.”

Die aggressiewe perdebye is ’n groot bedreiging vir die voedselketting omdat dit heuningbye, wat verantwoordelik is vir bestuiwing, uitwis. Wanneer heuningbye en perdebye mekaar op ’n blom “raakloop”, steek die perdebye die heuningbye.

“Die perdebye maak nie die heuningbye dood nie; hulle steek hulle totdat hulle verlam is. As jy ’n heuningby langs jou swembad sien stap, is hy deur ’n perdeby gesteek, want hy moet op ’n blom wees of by die koningin in die korf. Die perdebye is besig om die heuningbye teen ’n helse tempo uit te wis. Hul lywe raak al groter, wat beteken hulle is beter en sterker.”

Niemand spuit die perdebyneste saans met ’n middel wat nie skadelik is vir diere nie en wat ook nie huise se mure vlek nie. Hy doen die werk in samewerking met die Universiteit Stellenbosch (US).

“Alle inligting wat ek opgaar, soos die bewegings van perdebye en die ligging waar hulle nesmaak, teken dr. Ruan Veldman van die US se departement vir biodiversiteit op, en so doen hulle ook navorsing daaroor. Ek neem vir hom gereeld samples van die perdebye. Dan kan hy sien of die goed kleiner of groter is. As dit kleiner is, beteken dit die hele pes kan uitsterf, maar hulle bly groter raak. Daar is gevalle waar die neste reg rondom die huis is, maar in baie gevalle is dit tussen die geut en die dakplate.”

Niemand, wat Boland Snake Removals 24/7 and Pest Control besit, sê hy word van oral uitgeroep om die perdebye te kom verwyder. Dit sluit in Wellington, Paarl, Franschhoek, Stellenbosch, Malmesbury, Klapmuts en selfs Kaapstad.

In somermaande word hy tot drie weke vooruit bespreek om neste by mense se huise te verwyder.

Niemand is ook ’n ervare slangvanger met dekades se ondervinding. Hy sê tussen 1 en 13 November alleenlik het hy 20 Kaapse kobras tussen Paarl en Wellington gevang. Hy sê die kobras wat hy die afgelope tyd vang, is ook deesdae baie groot.

Vir enige verwydering van perdebye en slange, kontak Eduanne Niemand by 082 380 1987.

  • The invasive European wasps are back earlier than usual this year because the past winter was not cold and wet enough, says pest controller and snake catcher Eduanne Niemand.

You need to be Logged In to leave a comment.