Lede van Drakenstein-munisipaliteit se brandweer het die perd saam met Saron Animal Welfare Centre uit die kanaal buite Saron gered. Bo word die perd uit die kanaal opgehys. Foto: Verskaf


Die perd wat in ’n kanaal buite Saron vasgesit het, en deur barmhartige Samaritane gered was, moes intussen uitgesit word deur ‘n privaat veearts van Tulbagh. 

Volgens Patrick Marsh, die stigter van die Saron Animal Welfare Centre en ook ’n plaaslike brandbestryder in die dorp, het hy en sy kollegas by die brandweerdienste die perd Maandag 3 Junie uit die kanaal gered.

Volgens hom was die merrie vermoedelik reeds vanaf 31 Mei in die kanaal, wat tot by die Voëlvleidam loop, waar sy vasgekeer was en weens die gladde opper­vlakte nie haar pad terug huis toe kon vind nie.

Met Paarl Post se besoek in Saron  op 7 Junie het die merrie goed aangesterk, maar die afgelope Sagterdag (15 Junie) het die tyding verander, en moes die sy uitgesit word weens wesenlike skade aan haar beendere en ligemente.

Dit is volgens Odette Towsen, ‘n diereliefhebber wat haarself toegespits het om vir Marsh se diere-organisasies asook “Spirit” soos die perd intussen gedoop is, te help.

“Sy [Spirit]  het so hard geveg sedert [die afgelope] Donderdagoggend [13 Junie] toe haar toestand vererger het. Ongelukkig was haar beserings net te erg. Ons liewe Spirit, mag jy in vrede rus en ons is so jammer oor wat jy moes verduur,” het Towsen op ‘n Facebook-plasing geskryf.

Met hul aankoms om 10:00 was die perd in ’n haglike toestand met nie ’n greintjie veggees oor nie, en die merrie moes daarom – asook die feit dat dit steeds baie nat was – deur middel van brandslange teen die wal van die kanaal opgehys word.

Die perd is onder ’n seil toegegooi terwyl die reddingswerkers ’n vuur gemaak het om haar op te warm nadat sy aan hipotermie gelei het. Foto: Verskaf

Volgens Marsh het hy en die res van die reddingswerkers ’n seil onder haar geplaas, waarna brandslange om haar lyf gesit is, en sy na om en by twee ure opgehys is.

“Ek moes haar kop vashou, want dit het die heeltyd in die water gesak,” het Marsh vertel.

Volgens hom het die merrie aan hipotermie gely en haar bewussyn verloor.

Nadat die reddingswerkers haar suksesvol tot bo gehys het, het hulle ’n vuur aangesteek om die perd op te warm en haar ook gras gevoer het.

Hoewel sy toe daarna by haar volle bewussyn was, was sy steeds te swak om op te staan en moes die reddingswerkers haar op ’n sleepwa laai, waarna hulle haar na ’n stal op ’n plaas in Saron vervoer het.

Die perd het grootskaalse beserings aan haar voorpote opgedoen, wat amper tot op die been oopgeskuur was namate die merrie teen die wal van die kanaal probeer uitklim het.

Llewelyne Titus (links) en Patrick Marsh saam met die perd wat hulle gered het. Foto: Jana Scheepers

Volgens Marsh is sy ook “half wild”, wat hul werk bemoeilik het omdat sy nie mense om haar vertrou nie.

Dit is nie die eerste keer dat hy ’n dier uit die kanaal red nie, het Marsh gesê.

Volgens hom was daar al vorige gevalle waar perde of beeste gedurende die winter in die kanaal vasgesit het en wat hy ook moes red.

Hulle [die perde] gaan óf self daarin, óf hulle word deur kinders daar ingejaag.
Patrick Marsh

“Hulle [die perde] gaan óf self daarin, óf hulle word deur kinders daar ingejaag.”

Niemand worry oor die diere in die dorp nie. Daar moet iemand wees wat vir hulle kan praat.
Patrick Marsh

“Niemand worry oor die diere in die dorp nie. Daar moet iemand wees wat vir hulle kan praat,” het Marsh gesê.

Marsh red sedert 2013 diere onder die vaandel van sy nie-winsgewende organisasie, en ontvang hy geen befondsing nie.

Tydens besige maande spandeer hy tussen R5 000 tot R10 000 om diere te red of klinieke te reël.

Marsh verduidelik dat perde deel van die dorp se geskiedenis is.

“Baie mense het perde as ’n vervoermiddel of stokperdjie aangehou, en mooi na hulle gekyk”

Marsh self het ook met perde grootgeword, en het baie kennis oor dié “spesiale” dier soos hy hulle noem.

Deesdae het die kinders nie respek vir die perde nie, en steel hulle die perde om op hulle te ry vir genot. Die eienaars van die perde kyk mooi na hulle — dis die kinders wat hulle verwaarloos.
Patrick Marsh

“Deesdae het die kinders nie respek vir die perde nie, en steel hulle die perde om op hulle te ry vir genot. Die eienaars van die perde kyk mooi na hulle — dis die kinders wat hulle verwaarloos.”

Volgens hom versorg hy tientalle perde deur ’n jaar wat hy red of wat afgevat word by eienaars wat nie hulle perde versorg nie.

Daardie perde word dan genees, en opgegee vir aanneming.

“Die boere in die area neem meestal die perde aan as ’n stokperdjie,” het Marsh verduidelik.

  • Vir verdere inligting oor die Saron Animal Welfare Centre kan Marsh op 071 379 5601 gekontak word.

You need to be Logged In to leave a comment.