Nadia Carstens (34) is ’n naam sinoniem met PepsiCo se Wellington-tak omdat sy reeds 10 jaar vir die maatskappy werk en onder haar kollegas geliefd geraak het.
Onlangs het haar bekendheid nog verder gestrek – al die pad tot in New York, waar sy verlede maand (op 12 Oktober) PepsiCo se Chairman’s Circle of Champions-prys vir haar harde werk en deursettingsvermoë as PepsiCo Wellington se produksiebestuurder gewen het.
“Carstens, […] het haar span gelei tot ’n indrukwekkende ommeswaai in produktiwiteit (oorskry teikens met 160%) en prestasielewering gedurende 2022. Sy het ’n 26%-verbetering in bedryfsdoeltreffendheid teenoor die vorige jaar bewerkstellig, terwyl waterverbruik by die terrein sedert Januarie 2021 aansienlik verminder het,” lui ’n persverklaring van FleishmanHillard.
Volgens Carstens was dit ’n nederige ervaring om die prys in die sogenaamde Big Apple by PepsiCo se gala-aand te ontvang, met haar man, Cobus, aan haar sy.
Cobus het saam met haar na Noord-Amerika gereis.
Carstens verduidelik dat PepsiCo al hul wenners se eggenote en lewensmaats ook uitgenooi het na die vier dae lange viering, wat ingesluit het ’n glansgeleentheid saam met PepsiCo se globale uitvoerende hoof en voorsitter, Ramon Laguarta.
Carstens is ’n Karookind in murg en been en het op ’n plaas in Calvinia grootgeword.
Nadat sy gematrikuleer het, het sy voedseltegnologie aan die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie studeer en haar beroepslewe by Nibbly Bits in Wellington begin. Sy het ná vier jaar by Nibbly Bits by PepsiCo aangesluit – eers as produksie-ontwikkelaar en uiteindelik as produksiebestuurder.
Volgens Carstens is sy een van die min vroue in die land wat ’n PepsiCo-fabriek bestuur en is dié werk meer mansgeoriënteerd.
Buiten dié prestasie is sy ook die jongste produksiebestuurder by PepsiCo Suid-Afrika.
Sy is gaande oor haar span by die Wellington-tak en sê die toekenning is nie net vir haar nie, maar ook “vir almal” wat haar in haar beroep gehelp het.
“Die toekenning het my ’n hupstoot in ’n manswêreld gegee,” sê Carstens.
Volgens hierdie bobaas-produksiebestuurder het die toekenning haar ook aangemoedig om nóg meer in haar werk te groei en het die goue medalje om haar nek haar reeds met van haar oorsese kollegas laat skouers skuur.
“Ek het reeds nuwe mense ontmoet wat ek gewoonlik net op rekenaarskerms sien,” vertel sy.
Sy vertel ook tong in die kies dat selfs Laguarta haar op haar naam gegroet het.
“Ek hoop dat jong meisies wat in klein dorpies grootword, dit sal sien en besef dat hulle ook enigiets kan bereik,” sê Carstens.
Sy sê voorts haar familie en haar man is “baie trots” op haar en voeg by haar man is geweldig ondersteunend.
Carstens en haar man, Cobus, en die egpaar se kind, woon in Malmesbury.