Leerders by die Noorder-Paarl Hoërskool was Donderdag (1 Junie) op hol nadat pepersproei op die skoolterrein vrygelaat is. Dit is glo die derde voorval van dié aard by dié skool hierdie jaar.
Dit is leerders van die einste skool wat verantwoordelik is vir die voorval.
Verskeie leerders is na die noodeenheid van Paarl-hospitaal vir mediese behandeling geneem.
’n Ouer, wat anoniem wil bly om sy kind se identiteit te beskerm, het aan Paarl Post vertel dat ’n groep seuns pepersproei in die skool se gange gedurende eksamen gespuit het.
“Daar het nogal taamlik kinders by die hospitaal beland as gevolg van dit en dit is nie die eerste keer wat dit nou gebeur nie. Dit is nou al ’n hele paar keer dat sulke goed gebeur. Al wat die skool sê, is dat die kinders se ouers ontbied is en dan daag daai kinders se ouers nie eens op om te luister na die saak nie, en dan word alles net toegesmeer. Die eerste voorval waarin pepersproei die jaar by die skool gespuit is, was in die eerste week in die jaar toe die skool begin het. Die tweede geval was in Februarie en dan nou die geval van verlede week.”
Tydens verlede Donderdag se voorval, sê die man, was sy dogter gelukkig ver weg van waar die pepersproei gespuit is.
“In ’n vorige voorval waarin daar ook pepersproei in die klaskamer gespuit is, het haar bors toegetrek en hulle moes met haar haas na Mediclinic. Die hoof (Natalie Arendse) het gesê hulle het die kinders berispe, maar dis al wat altyd gebeur. Hulle (die kinders wat verantwoordelik is vir die voorval) word net berispe en dan eindig dit net daar. Ek dink dit is baie unfair teenoor ons kinders, want ons kinders is daar om te leer. Aanmekaar wanneer daar iets gebeur, kom die spannetjie wat verantwoordelik is niks oor nie.”
Die pa sê verder dat voorvalle soos hierdie hom baie bekommerd laat omdat hy heeltyd moet wonder of sy kind veilig is by die skool terwyl hy by die werk is.
Navrae oor die jongste voorval is gerig aan die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD). Bronagh Hammond, ’n woordvoerder vir die departement, sê die WKOD is bewus van die insident.
“ ’n Leerder het pepersproei na die skool gebring, klaarblyklik onbekend aan die onderwysers of skoolbestuur. Die leerder het met die toestel geëksperimenteer, wat toe in die skool se gang afgegaan het. Kommer is geopper oor die gesondheid van sommige van die leerders wat aan die bespuiting blootgestel is, veral dié wat asma het. “Hulle is na ’n gesondheidsfasiliteit gestuur vir verdere waarneming en later ontslaan. Die skool het ondersteuning vir leerders gereël. Dissiplinêre prosedures is ingestel.”
Navrae aan Paarl-hospitaal is teen druktyd nie beantwoord nie.