’n Bekende bejaarde van Noorder-Paarl is onlangs deur ’n veiligheidsbeampte erg verneder en van diefstal beskuldig, en dit terwyl hy in sy rolstoel was.
Jan Viljoen van die Groenleegte-aftreeoord het vandeesweek sy vreesaanjaende en skokkende verhaal met Paarl Post gedeel.
Hy sê hy het op 31 Oktober oudergewoonte sy maandeinde-inkopies gedoen. Hy is op sy rooi elektriese rolstoel eers na KaapAgri om gifstof te koop, wat slegs daar beskikbaar is, waarna hy ’n draai by Rembrandt Mall gemaak het. Hierna het hy die 7 Days-supermark in Noorder-Paarl aangedoen om ’n lekker vet skaapribbetjie te koop. Al sy inkopies wat hy langs die pad gedoen het, word in ’n sak tussen sy voete gehou.
Hierna was sy laaste stop by Noorder-Paarl Checkers, waar sy vrou hom gevra het om No Name Brand- All Bran-graanvlokkies te koop, wat hulle altyd vir ontbyt eet.
Jan sê hy ken as gereelde klant die meeste personeellede. Hy groet toe eers vriendelik die veiligheidswag by die ingang in Zulu en ry met sy elektriese rolstoel verder en groet-groet die winkel in.
Hy het hier en daar ’n gesprek met ’n kennis aangeknoop terwyl hy na die ontbytkosgang onderweg was.
En toe loop sy lekker inkopie-uitstappie-dag lelik verkeerd.
“ ’n Man geklee in ’n uniform met die logo Civa daarop het van agter af verby my rolstoel gestap en aan my spieëltjie gestamp.”
Civa-sekuriteit is ’n risikobestuur-maatskappy wat dienste aan Checkers lewer.
“Ek vra hom toe vriendelik om verskoning, maar die man het geweldig onbeskof opgetree, maar weggestap,” vertel Jan.
“Ek was geskok deur sy optrede.”
Jan sê hy het ’n pak All Bran geneem en is na ’n kassier voor in die winkel om daarvoor te betaal. Hy ken ook dié kassier, wat hom vriendelik gegroet het.
“Skielik kom die man wat teen my rolstoel gestamp het van voor af en sonder waarskuwing gryp hy na die sak met al my vroeëre inkopies daarin en ruk en pluk aan my rolstoel. Hy het die goedere op die toonbank uitgegooi en beskuldigend geskree dat ek dit gesteel het.”
Jan sê die gifstof wat hy gekoop het, is nie eens by Checkers beskikbaar nie, en die skaapribbetjie was duidelik in ’n 7 Days-verpakking. Maar hy het my goedere na my rolstoel gegooi en steeds beskuldigings na my geslinger.”
Jan sê die wag wou na niks en niemand luister nie en omstanders wou selfs hardhandig raak oor sy optrede teen ’n bejaarde in ’n rolstoel.
“ ’n Vriendelike vrou het ingetree en die bestuurder van Checkers genader en gevra hulle moet na die sekuriteitskameras kyk.”
Die kringtelevisiemateriaal het absoluut geen bewyse gelewer dat enige diefstal plaasgevind het nie. Jan het slegs ’n pak All Bran gehad, waarvoor hy besig was om te betaal.
Jan sê die Civa-wag het selfs met hierdie bewyse steeds antagonisties opgetree.
“Ek het toe alles net so in die winkel gelos en is huis toe, want ek was bang dat ek weer eens ’n beroerte of hartaanval sou kry. Tuis het ek in trane uitgebars weens die erge vernedering.”
Jan sê die bestuurder van Checkers het later self al sy inkopies wat die man in die winkel gestrooi het, vir hom by sy huis terugbesorg.
“Ek is steeds erg geruk deur hierdie voorval en ek soek ’n verduideliking wat hulle hier omtfent gaan doen. Ek is ook in konsultasie met ’n prokureur oor moontlike stappe.”
Checkers se hoofkantoor het gesê Jan is onmiddellik gekontak met ‘n verskoning. Hy is ook ingelig oor die regstellende aksies wat geneem is om ‘n herhaling te voorkom. ’n Woordvoerder van Civa het gesê hulle gaan tans geen kommentaar hieroor lewer nie omdat hulle die voorval nog ondersoek.
. A pensioner tells of his harrowing experience when he was falsely accused of theft and publically humiliated by a security officer at a local supermarket.


