Carolus Daniels by die pragtige tuin wat hy aangelê het.Foto: Chantélle Hartebeest


Een mens kan ’n groot verskil maak, en Carolus Daniels van Magnolia in Paarl-Oos is ’n goeie voorbeeld hiervan. Dié pensioenaris het ’n gemeenskapstuin begin op ’n oop stuk grond waar inwoners eens op ’n tyd vullis gestort het.

Vandag, drie jaar later, staan die sonneblomme hoog terwyl groente en kruie plat op die vrugbare grond groei. Daniels het die tuin in 2019, nadat hy afgetree het, aangelê.

“Ek het klaargemaak met my werk toe ek 60 is. Ek het omtrent vyf of ses maande net gerus en by die huis gebly en die stink reuk opgelet wat tussen die gras en vullis uitgekom het. Toe het ek aan my vrou gesê ek wil nie oud word deur by die huis te sit nie. Ek het toe ’n graaf geneem en by die stuk grond begin skoffel. Ek het al die gras wat hoog gestaan het, uitgespit.

“Die goed wat uit die gras gekom het, was dooie honde en katte, gebruikte sanitêre doekies en babadoeke. Ek het skoongemaak en mense van die munisipaliteit het een middag verbygery en ek het hulle voorgekeer. Ek het gevra of ek nie hierdie stuk grond kan mooimaak nie en of ek blomme kan plant. Voor dit, net nadat ek skoongemaak het, het ’n man gekom en gevra om ’n opslaanwoning op te sit. Ek het nee gesê en genoem dat ek tuin gaan maak.”

Die 63-jarige het die tuin begin met die bietjie geld wat hy as ’n pensioenaris kry. En so het die tuin oor die jare bietjie vir bietjie gegroei.

“Deur die winter en die somer het ek elke dag plantjies gekoop en dit geplant. As ek stap en ek sien ’n plantjie in iemand se tuin, dan vra ek of hulle dit aan my wil verkoop. Dan kom plant ek dit. Ek was by die munisipaliteit vir hulp en hulle het onlangs begin help. Die res het ek alles alleen gedoen – elke dag. Soms sê ek vir my vrou ek voel so verveeld en ek gaan nou ’n bietjie tyd in die tuin deurbring. Dan skel sy, want dis warm. Hier is bure wat my ook baie gehelp en moed ingepraat het, maar tot dusver het ek alles alleen gedoen.”

Daniels het ’n verskeidenheid plantjies in die tuin geplant – van groente tot kruie. In die tuin is rose, bitteraalwyn, sonneblomme, vetplante, groenboontjies, beet, uie, spinasie, skorsies, pampoen, brandrissies en nog meer. “Ek vra nie vir die mense geld as hulle van die groente of kruie vra nie, want dit is mos ’n gemeenskapstuin. Maar daar is mense wat advantage wil vat van die tuin. Ek moet byvoeg dat mense glad nie iets uit die tuin steel nie.”

Die oom vir wie almal respek het, se harde werk gaan nie ongesiens verby inwoners in die gemeenskap nie. Hy is onlangs deur Magnolia Primêr genader om leerders oor tuinmaak te help opvoed.

“Ek het ingestem en gesê die skool moet net laat weet wanneer ek moet kom. Ek sal die kinders leer hoe om te plant en ook leer wanneer is watter groente in seisoen,” voeg Daniels by.

Hy sê toe hy aftree, het hy nie gedink hy het nog soveel krag om al die plante te plant nie.

Wanneer hy van die tuin praat, is die trots duidelik op sy gesig te sien.

Daniels vertel selfs die mense wat hul vullis op die oop grond gestort het, kom staan deesdae en neem foto’s van hulself by die tuin.

“Die tuin is baie mooi en ek sien my liefde in die plante. Wanneer ek soggens uit die huis kom as ek klaar geëet en gebid het, dan stap ek na die een punt van die tuin. As ek daar kom, dan fluit ek enigiets wat by my opkom, en dan loop en praat ek so met die plante tot by die ander punt van die tuin. ‘Hoekom lyk jy dan vandag so? Jou koppie hang ’n bietjie, my broe.’

“Só praat ek met hulle en dan weet ek hulle kort water. Die aand gee ek dan water. Ek kry water by een van die bure of ek kry water uit my badkamer op die boonste verdieping van die woonstelle. Dan is die plante weer alright.”

Met Paarl Post se besoek aan Daniels was Lorraine Cyster, Drakenstein se burgemeesterskomiteelid vir parke, vaste afval en begraafplase, ook teenwoordig.

“Hy kontak my direk as hy iets vir die tuin nodig het. Ons het nie op die oomblik tuinkompos nie, maar ons het vir hom saagsels gegee wat ook in kompos omgeskep kan word en wat hy kan inwerk. Ek het eerstens vir hom dankie gesê vir wat hy doen en hom aangemoedig om voort te gaan. Ons het afgespreek ons wil soort van ’n kompetisie hou.

“So, ek sal weer terugkom na hom toe, maar hy het my ondersteuning vir wat hy doen. Ek het vir hom gesê as hy plante nodig het, sal ek hom na die munisipale kwekery neem. Ek is dankbaar vir mense wat ’n verskil in die gemeenskap wil maak, want onwettige rommelstrooi is ’n uitdaging in die munisipaliteit en hier is een oom wat sy vrye tyd, sy krag en alles gebruik om hier in Magnolia die oop ruimte in ’n tuin vol blomme en vreugde om te skep.”. One person can make a big difference, and Carolus Daniels from Magnolia in Paarl-East is a good example of this. The pensioner started a community garden on an open piece of land where residents once dumped rubbish.

You need to be Logged In to leave a comment.