Die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (KSUT) se onderwyskampus in Wellington en Mowbray het reeds ’n jaar gelede hul eie kampuskoerant op die been gebring – die Penin Papier.
Aan die stuur van dié projek is Guilmóre B Le Breton (22), ’n finalejaar-onderwysstudent in die verdere onderwys-en-opleiding-fase (VOO), wat as die aanlyn-kampuskoerant se redakteur optree en ’n span van 20 redaksielede, kreatiewe skrywers en ’n verspreider bestuur.
Volgens Le Breton fokus Penin Papier uitsluitlik op kampusnuus van albei KSUT-onderwyskampusse in Wellington en Mowbray.
Dr. Amanda Swart, lektor in Afrikaans by die KSUT se Wellington-kampus en wat Penin Papier oorsien, het verduidelik sy het met die idee vir ’n koerant vorendag gekom om die “studentelewe” op veral die Wellington-kampus op te kikker. Volgens Swart is die koerant ’n manier om die studente bewus te maak van kampus-gebeurtenisse, wat ’n kampus-kultuur sal aanmoedig.
Swart het ook verduidelik dat die naam “Penin Papier” sinspeel op die KSUT se Engelse vertaling van skiereiland, wat lui “peninsula”.
Penin Papier kies om weg te skram van sensitiewe onderwerpe en deel eerder positiewe kampus-nuus met sy lesers.
“Ons wil nie ontstellende nuus op die voorblad sit nie, en wissel ook die voorblaaie af tussen Afrikaans en Engels.”
“Die res van die koerant volg ook hiérdie formaat, waar die tale, insluitend Xhosa, afgewissel word.”
“Die swaarste onderwerp waaroor ons [Penin Papier] dié jaar berig het, was seker die studente-optogte hier in Wellington aan die begin van die jaar,” het Le Breton gesê.
Volgens haar hou sy ook meer van sagte nuus en kreatiewe skryfwerk, wat gewoonlik saam met poësie in die koerant verskyn.
Tans word die koerant kwartaalliks in ’n gratis aanlyn “flipbook”-vorm gepubliseer wat Le Breton op die Canva- grafiese ontwerpprogram saamstel.
Sy verduidelik dat die koerant onder meer berig oor verskeie praatjies wat gelewer word of geleenthede wat op albei onderwyskampusse plaasvind, waar Swart ’n finale oog sal gooi en uitkyk vir moontlike tikfoute wat kon insluip.
“Ek verander nie aan die ‘studente- taal’ nie, al wil ek partykeer,” het Swart laggend gesê.
Volgens haar wil sy die studente se “stem” daarin los, sodat ander studente op die kampus hulle met die taal sal vereenselwig, wat hulle sal aanmoedig om die koerant te lees.
Le Breton het nog véle idees wat sy wil instel en toepas voordat sy aan die einde van die jaar “graad vang”, en een hiervan is om die deur tot moontlike finansiering oop te maak om die koerant te laat groei.