Pauw Gedenk spog met ryk geskiedenis

Die Pauw Gedenk Primêre Skool in Wellington wat vir die afgelope 137 jaar met ’n ryk geskiedenis en trotse tradisie spog, vier vanjaar die 90ste bestaansjaar van hul skoolgebou.


Die Pauw Gedenk Primêre Skool in Wellington wat vir die afgelope 137 jaar met ’n ryk geskiedenis en trotse tradisie spog, vier vanjaar die 90ste bestaansjaar van hul skoolgebou.

Die skoolgebou, wat op 17 April 1926 amptelik ingewy is, is ook as ’n historiese gebou deur die Wellingtonse Estetiese komitee verklaar.

Dieselfde komitee het in 2013 ’n toekenning aan die skool oorhandig vir die “Beste Opgeknapte Historiese Gebou” in Wellington.

Volgens skoolhoof Julius Williams is die skoolgemeenskap opreg trots oor die toekenning wat die skool ontvang het.

Die skoolgebou het ’n ryke geskiedenis van weleer in die oplewing van professionele en kwaliteit godsdiensleiers, akademici, regslui, sportlegendes en kultuurgenote van formaat.

Williams vertel: “Pauw Gedenk het reeds in 1879 as skool begin opereer. Dit wil sê die skool is een van die oudste opvoedingsinstellings in ons dorp.”

Die geskiedenis en herkoms van dié skool word as ’n aaneenlopende verhaal vertel, hoewel daar soms onderbrekings was. Ten spyte van die onderbrekings het die skool nooit sy doeltreffendheid, doelmatigheid en sy karakter verloor nie. Die skoolgebou kon optimaal benut word aangesien daar in die beplanningsfase voorsiening gemaak is vir aanpasbaarheid. Dit het voorsien in die onderrig-leeraktiwiteite waarvoor dit ontwerp was, maar moes ook aanpasbaar wees vir die eise wat deur die jare se ontwikkeling, verandering en transformasie aan die onderwys gestel was.

Só is die skoolgebou dan amptelik in 1926 in gebruik geneem met wyle meester Andries Ruiters as die eerste skoolhoof en hoofonderwyser wat die skool vir dertig jaar lank gedien het.

“Oor die 90 jaar het toegewyde en bekwame opvoeders alles in die stryd gewerp om ’n opgevoede en welgestelde gemeenskap in Wellington te vestig,” verduidelik Williams.

Williams vertel voorts: “’n Mens kry eintlik hoendervleis wanneer jy reflekteer oor die onuitwisbare spore van die voorgangers in die kweek van ’n nuwe millennium generasie.”

Volgens Williams is die skoolgebou ’n sieraad vir die volgende nageslag.

“Deur die skoolgebou kom geslagte van baie bekende families wat in die samelewing hul merk gemaak het en wie se denk- en lewensbeskouing radikaal deur invloedryke opvoeders beïnvloed is,” aldus Williams.

Williams: “Ons poog hard om te sorg dat die skoolgebou die spieëlbeeld van die gemeenskap is en dat ons ook rekening hou met die tegnologiese leefwêreld van ons kliënte.”

Die hooffokus by Pauw Gedenk bly egter kwaliteit en effektiewe opvoeding en onderrig in ’n post-moderne samelewing.

“Dit is danksy die visioenêre leierskap wat deur eerwaarde Pauw aan die dag gelê was om die volk, kerk en vaderland te verenig,” sê Williams.

“Die jare lange verbintenis met die kerk verdien ook vermeld te word aangesien godsdiens steeds die basis vorm waarop ons daaglikse voortbestaan gefundeer is.

“Ons wil egter in herinnering roep al die wyle eerwaardes wat ’n prominente rol vertolk het as bestuurders in die vestiging van die skool,” aldus Williams.

Die voormalige skoolhoofde asook onderwysers was baanbreker-leiersfigure wat diep spore getrap in die opvoeding by Pauw Gedenk en in die vorming van ’n gevestigde, opgevoede gemeenskap.

“Daar is dus nog onvertelde wedervaringe en dalk ook eskapades waarvan ons nie weet nie en dit maak mens nuuskierig om dieper te delf en navorsing te doen in die ryke verlede van die ikoon – Pauw Gedenk Primêre Skool,” vertel Williams.

As deel van die vieringe, hou die skool op Sondag 11 September om 10:00 ’n dankseggingsdiens in die VGK Wellington (langs die skool).

Vir nadere besonderhede, bel die skool by 021 873 2401.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.