Honderde angstige ouers soek antwoorde oor hul kinders se skoolloopbaan vir 2020 nadat ’n plaaslike skoolgebou in Wellington onveilig verklaar is.
Pauw Gedenk Primêr se gebou wat sedert 1926 bestaan, word nou as lewensgevaarlik vir die leerders en onderwysers beskou.
Ouers het nou selfs sover gegaan om hul kinders by dié skool uit te haal en het by buurskole in die omgewing gaan aanklop vir volgende jaar omdat daar nie ’n waarborg is dat die skool sy deure in Januarie gaan oopmaak nie.
Onderwysers van Pauw Gedenk is nou bekommerd omdat die skool gaan leegloop as die ouers hul kinders uithaal.
’n Onderwyser by dié skool, wat anoniem wil bly, het aan Paarl Post vertel dat dit op ’n ramp sal afstuur as van hulle onderwysers hul werk kan verloor.
“Dit sal veroorsaak dat onderwysers oorbodig by die skool sal wees as ons te min kinders vir 2020 gaan hê,” sê sy.
Agt van dié klaskamers – vier op die boonste verdieping en vier op die grondvloer – is só erg vervalle dat die onderwysers bekommerd is oor hul veiligheid en dié van die leerders.
Die skoolbeheerraad asook die onderwysers van die skool het maande voor die voorval ’n pleidooi by die Wes-Kaap onderwysdepartement (WKOD) ingedien, maar dit het op dowe ore geval.
Met aanvang van die vierde kwartaal moes die skool 80 leerders in die nuwe aangeboude klaskamers indruk om onderrig te word. Onderwysers moes letterlik oor die leerders se tafeltjies loop om tussen hulle te beweeg.
Intussen het ’n beampte van die departement van infrastruktuur dienslewering wat deur die WKOD gekontrakteer is, die gebou onveilig verklaar.
Ouers en die beheerraad het besluit die opvoeding moet gestaak word indien die WKOD nie sy belofte nakom om die klaskamers te herstel nie.
By navraag aan die WKOD het Bronagh Hammond, woordvoerder geantwoord: “Daar was pogings om 24 Oktober by die skool se gebou te werk, maar die kontrakteurs is verhoed om dit te doen.
Volgens Hammond begin permanente regstellende werk volgende week ná goedkeuring van die Erfenisraad.