Die Paarl-gemeenskap, oudstudente en oudonderwysers word genooi om die jaarlikse skoolbasaar van die Laerskool Paulus Joubert, wat Saterdag 12 Oktober op die skoolterrein plaasvind, by te woon.
Paulus Joubert, wat vanjaar sy 65ste bestaansjaar vier, beloof dat die basaar soos altyd ’n wonderlike dag en heerlike atmosfeer sal bied. Die basaar is ’n fantastiese geldinsamelingsprojek en bied ook ’n samekoms vir die gemeenskap. Tuisgebakte lekkernye en koeke, lekkergoedmandjies, worsrolletjies, koeldrank, groente, spookasem, hoendervlerkies en skyfies sal onder meer verkoop word.
’n Springkasteel sal deel van die pret vir die kleinspan wees.
Merk dié dag op jou kalender af, maak gereed vir pret en winskopies en kom beleef die goeie gemeenskapsgees. Koepons is by die skool vir dié dag te koop.. Kontak die skool by 021 862 3690 of skakel 068 243 1594 met enige navrae.