Ek het die afgelope paar weke gehoor van mense wat ek ken wat onder die een of ander scam deurgeloop het.
Een vrou sê die mans was so mooi ordentlik aangetrek en sy het net gedink hulle wou haar by die OTM help, maar minute later is haar bankrekening leeg gesteel.
Nog iemand vertel van ’n kompetisie wat sy glo gewen het, maar gelukkig het sy besef sy het nooit vir so ’n kompetisie ingeskryf nie.
Ons dink dikwels dat so iets nie met ons gaan gebeur nie. Ek weet nie of mense dink iemand wat skelm is, lyk ’n sekere manier nie, want dan het hulle seker nog nie van die gesegde “ ’n wolf in skaapsklere” gehoor nie!
Die feesseisoen is hier. Black Friday is hier. Moenie met ’n slap riem gevang word nie, want dan is jy jou swaar verdiende geld kwyt.
As iets te goed is om waar te wees, is dit gewoonlik!

