Die Wes-Kaapse onderwysdepartement sê in die belang van leerlinge en opvoeders se veiligheid, sal skole in die Kaapse Wynland-distrik en Overberg ook Dinsdag (9 April) gesluit wees.
Die departement het in ’n verklaring gesê hy word deurlopend deur die provinsiale rampbestuursentrum asook die Suid-Afrikaanse weerdiens ingelig oor die skadelike weerstoestande oor verskeie dele van die Wes-Kaap.
“Alle skole in die ander ses onderwysdistrikte moet egter oop bly.
“Ons verstaan egter dat omstandighede kan vereis dat ander skole, weens skade aan infrastruktuur of oorstromings, ook ’n behoefte kan hê om gesluit te word.
“Die relevante prosedures vir sulke versoeke sal gevolg moet word. Dit sal van geval-tot-geval oorweeg word,” lui die departement se verklaring.
Vervoerdienste vir leerlinge in hierdie gebiede sal ook gevolglik Dinsdag opgeskort word.
Die departement sê hy sal ook met onafhanklike skoolbeheerliggame in gesprek tree.
Hy sê hy hou die situasie in die geaffekteerde gebiede noukeurig dop en dat alle skole na verwagting Woensdag (10 April) sal heropen.
Skole in die Overberg, Wynlande en Helderberg-distrikte, was Maandag (8 April) gesluit te midde van ’n laagdrukstelsel wat steeds oor dele van die provinsie beweeg en intense reënbuie wat voorspel word.
Die weerdiens se vlak 9-weerwaarskuwing is ook steeds in plek vir die suidelike dele van die Kaapse Wynlande en Overberg-distrik.