Stephen Korabie, ’n DA-raadslid van die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit, is Vrydag as die nuwe uitvoerende burgemeester van die Drakenstein-munisipaliteit verkies.
Vrydag se verkiesing volg nadat Conrad Poole op 28 Februarie deur ’n wantrouemosie verwyder is.
Poole het ook Vrydag se verrigtinge in sy kapasiteit as lid van die Wes-Kaapse provinsiale wetgewer bygewoon.
Korabie en Keagen Gertse, hoofsweep van die GOOD-party, was Vrydag die enigste twee nominasies vir die vakante posisie.
Uit die 63 raadslede het 36 vir Korabie gestem.
Gerste het 27 stemme ontvang.
Die verkiesing het by die stadsaal in Wellington plaasgevind.
Korabie, ’n DA-raadslid en Wellington-inwoner, het ’n agtergrond in onder meer administratiewe reg, kriminologie en maatskaplike werk.
Volgens sy aanlyn profiel het hy ook vir 23 jaar in die korrektiewe dienste departement gewerk.
In sy openingstoespraak het Korabie gesê hy sal dienslewering vir alle inwoners prioritiseer.
Hy het veral klem gelê daarop dat hy die munisipaliteit se informele nedersettings wil “skoonmaak”.
“Hierdie ‘ons-en-hulle’ houding moet stop. Ons is almal raadslede wat tot hierdie kantoor verkies is – om inwoners te dien.
“Laat ons voortbou op die fondasie van goeie dienslewering wat reeds gelê is,” het Korabie gesê.
* Volg Paarl Post vir meer oor hierdie brekende nuus.