Een parlementslid is dood en en drie is glo beseer in ’n motorongeluk wat naby die Pearl Valley-landgoed op die Wemmershoekpad buite Paarl plaasgevind het.
Die identiteit van die parlementslid is steeds onbekend en die lid se familie was teen 09:00 nog nie in kennis gestel nie.
Die ongeluk het omstreeks 08:30 Woensdagoggend plaasgevind toe ’n parlementsvoertuig waarin die vier LP’s gery het met ’n minibus gebots en die parlementsvoertuig het omgeslaan.
Wettoepassingslede wat die parlementsvoertuig begelei het, wou nie praat nie en het versoek dat foto’s van die toneel nie geneem word nie omdat dit nou “diplomatiese” grond is.
Netwerk24 het berig dat die parlementslede van die portefeuljekomitee oor basiese onderwys is. Hulle was glo oppad na ’n oorsigbesoek aan verskeie skole in die omgewing.