Bykans 70% van motoriste wat van betaalde parkering in dele van Lady Grey- en Hoofstraat in die Paarl gebruik maak, weier om vir parkering te betaal, wat gedeeltelik daartoe bydra dat Minitzers Management Services, die groep wat parkering hier reguleer, jaarliks sowat R3 miljoen verloor.
Dit is volgens Dennis Minitzer, verbonde aan Minitzers Management Services, met wie Paarl Post vandeesweek gesels het.
Paarl Post het uitgereik na Minitzer ná vurige gesprekke onder inwoners op sosiale media wat die relevansie van die betaal-vir-parkeer-stelsel bevraagteken het.
Dit lyk asof onduidelikheid onder inwoners heers oor waarvoor hierdie geld aangewend word, en wat dan nou werklik die mandaat van Minitzer en sy groep in hierdie uitgesoekte gebiede is.
Inwoners wou ook weet hoekom hulle vir parkering moet betaal terwyl misdaad in die middedorp nie noemenswaardig afneem nie.
Die inwoners het ook gevra wie verantwoordelikheid moet dra vir die netheid en algemene instandhouding van die gemeenskaplike gebiede wat deur Minitzer en sy groep bestuur word.
“Ek dink dit is belangrik om te beklemtoon dat ons nie ’n halwe sent uit parkering maak nie. Bykans 70% van mense wat daar parkeer, weier om te betaal.
“Ons kan die stelsel dus nie doeltreffend bestuur nie omdat ons nie wetstoepassers is of bystand van die munisipaliteit se verkeersafdeling het nie. Ideaal gesproke sou ons verwag dat hulle motoriste vervolg wat summier wegry en nie betaal nie,” het Minitzer aan Paarl Post gesê.
Hy sê dit kos sy maatskappy ’n klein fortuin om die middedorp te beveilig.
“Op sekuriteit alleen bestee ons sowat R300 000 per maand. Dit is om die middedorp ’n veilige plek te maak vir motoriste – dié wat kom inkopies doen – asook ondernemings.
“Ek sê elke dag vir die parkeerwagte indien mense kla, moet hulle net sê as hulle nie daar was om parkering te reguleer nie, sou daar nooit parkering wees nie. Ek kan jou waarborg – die dag wanneer ons ophou parkering reguleer, sal almal wat in die gebied werk, die beste parkeerplekke benut. Van 07:00 soggens sou alle parkeerplekke vir die hele dag beset wees. Ons móét hierdie soort stelsel in plek hê.”
Minitzer sê wat die algemene netheid en instandhouding in die middedorp betref, faal die Drakenstein-munisipaliteit ingevolge sy ooreenkoms met die maatskappy.
“Van die grootste uitdagings wat ons oor netheid ervaar het, was informele handelaars wat op die sypaadjies goed verkoop en dit bemors asook mense wat geheel en al net morsig is. Ons het daarin geslaag om van die meeste van hulle ontslae te raak – gaan kyk gerus na die gebiede wat ons bestuur.
“Die res van die dorp is ’n gemors omdat die munisipaliteit in sy plig faal. My veiligheidswagte het nie die mag om mense te verwyder nie. Hulle het ook nie die mag om mense te vervolg nie. Die munisipaliteit faal ons dus in ons visie om die middedorp reg te ruk.”
Minitzer se maatskappy het in 2008 ’n ooreenkoms met die Drakenstein-munisipaliteit aangegaan wat hoofsaaklik daarop gemik was om die middedorp tot sy voormalig florerende sakekern te herstel.
Benewens ’n deel van Lady Grey- en Hoofstraat sluit die ooreenkoms ook afgebakende betaal-vir-parkering-gebiede in, soos die vierkante by Patriots, Wamakers en Van der Lingen.
Hier is die eerste uur van parkering gratis, en daarna R5 vir elke halfuur.
Paarl Post het vandeesweek by die Drakenstein-munisipaliteit probeer uitvind wat sy rol in die oorkoms is.
Hierop het Seraj Johaar, die munisipaliteit se uitvoerende direkteur vir korporatiewe en beplanningsdienste, eenvoudig gesê “die munisipaliteit is in die proses om sy parkeerbestuursplan in die middedorp te hersien en ná voltooiing sal meer inligting aan die publiek bekend gemaak word”.