Musiek vloei diep in die are van die Papier-familie van Franschhoek, wat reeds in die 1930’s as die Papier-orkes bekendheid verwerf het – maar ook meer onlangs, sedert Graigan Mentoor (12) en sy oupa, Frank Papier, saam die saksofoon en trekklavier speel.

Dié kleinseun-en-oupa-duo het so geliefd onder die Franschhoek-gemeenskap geraak dat hulle uiteindelik deur Koos Bekker, die mede-eienaar van Babylonstoren, opgespoor is.

Bekker het hulle daarna uitgenooi om op ‘n betaalde reis na die Chelsea-blommeskou in Londen te gaan waar hulle feesgangers met hul musiek sal betower.

Die Chelsea-blommeskou vind van 20 tot 24 Mei in Chelsea, Londen, plaas.

Koning Charles sal na verwagting sy verskyning by die skou maak.

Graigan is ‘n gr. 6-leerder aan die Hoërskool Bridge House en het in sy kinderdae ‘n passie vir musiek ontwikkel nadat sy oupa, Frank, hom daaraan bekendgestel het.

Volgens hom is hy “baie opgewonde” oor die reis oor die Atlantiese oseaan na Londen en bring hierdie geleentheid hom soveel nader aan sy droom om eendag ‘n professionele musikant te wees.

Volgens Graigan speel hy en sy oupa al amper twee jaar elke Woensdag en Vrydag by Babylonstoren.

Hulle tree ook by ‘n verskeidenheid saamtrekke op, insluitend troues, begrafnisse, asook in die kerk. Die duo het ook in Maart by die Oesfees op die Solms Delta-plaas gespeel.

Jong Graigan Mentoor (links) saam met sy oupa, Frank Papier. Graigan is reeds van jongs af deel van die Papier-orkes en speel verskeie insturmente, onder meer kitaar. Foto: Verskaf

Dié talentvolle jong musikant het slegs sowat twee jaar gelede ‘n saksofoon, wat sy oupa vir hom gegee het, vir die eerste keer begin speel en daarna nooit teruggekyk nie.

Intussen het hy ook vele ander instrumente, insluitend klavier, trekklavier, kitaar, tromme, viool en die banjo bemeester.

Sy gunstelingmusiek om saam met sy oupa te speel, is gewis “langarmmusiek” – ‘n genre waarmee hy grootgeword het en een wat talle Suid-Afrikanners ken.

Dit is ook dié musiek wat hy en sy oupa by die blommeskou gaan speel om feesgangers ‘n smakie van egte Suid-Afrikaanse musiek te gee.

Volgens Marize Mentoor, Graigan se trotse ma en die dogter van Frank, is die Papier-orkes in Franschhoek bekend, juis omdat die Papier-familie uit Franschhoek kom.

Marize se oupa, Marthinus, het die orkes in 1932 begin, en dié orkes leef tans danksy Graigan en sy oupa voort.

Volgens haar is die familie “baie trots” op Graigan se prestasie, veral omdat hy op so ‘n jong ouderdom reeds goot sukses behaal.

Dit is ‘n eerste vir die Papier-orkes om op die internasionale verhoog te kan speel, voeg Marize by.

“My oupa en pa het al jare lank gespeel, maar hier kom wys jong Graigan gou en vinnig vir ons hoe dit éintlik gedoen word.”

Marize Mentoor

“My oupa en pa het al jare lank gespeel, maar hier kom wys jong Graigan gou en vinnig vir ons hoe dit éintlik gedoen word.”

Graigan en oupa Frank gaan saam met die orkes se bestuurder, Regan Papier (Graigan se oom), asook Marize na Engeland reis.

• Die Papier-orkes kan gevolg word op TikTok en Facebook.

You need to be Logged In to leave a comment.