’n Motoris is op die aand van 8 November deur die Paarl-polisie in hegtenis geneem nadat hy na bewering twee ander motoriste wat hom op die R44 verbygesteek het met ’n sambok bygedam en pimpel en pers geslaan het.
Die motoris, Robert Riedel (67), staan tereg op ’n aanklag van aanranding en was ook in hegtenis geneem vir dronkbestuur en later vrygelaat, volgens kapt. Louise du Plessis, woordvoerder van die Paarl-polisie.
Volgens du Plessis het die voorval omstreeks 19:45 plaasgevind.
Volgens die twee motoriste wat anoniem wil bly om die onderneming waarvoor hulle werk se reputasie te beskerm, het hulle met ’n werkvoertuig op die R44 in Wellington se rigting gery, sowat vyf kilometer van die N1-brug, toe hulle drie voertuie voor hulle gewaar het wat “stadig” gery het.
Volgens hulle wou hulle die motors, wat sowat 80 km/h in ’n 100 km/h-sone gery het, verbysteek.
Nadat die bestuurder sy flikkerlig aangeskakel het om die voertuie verby te steek, het die voertuig wat Riedel bestuur het, met die handelsnaam Crystal Direct, voor die anonieme motoriste ingeswaai, wat hulle gedwing het om agter hom in te draai.
Die anonieme motoriste beweer dat Riedel toe begin “brieke trap” het, waarna die motoriste sonder om dit met ’n flikkerlig aan te kondig die voertuig verbygesteek het in ’n poging om hom onkant te betrap.
Riedel het toe volgens die motoriste op hul werkvoertuig afgejaag, totdat hulle afgedraai het op die Perdebergpad naby aan hul werkperseel net ná die Windmeul-kelder. Hier het hulle links van die geel lyn stilgehou nadat Riedel na bewering voor hulle ingejaag het.
“As ons briek sou getrap het, sou daar ’n ongeluk gewees het,” vertel die passasier.
“Ons het toe uitgeklim en hom [Riedel] gevra wat sy storie is,” vertel hy.
“Kom ons praat ’n bietjie,” het Riedel glo hierop geantwoord.
Daarna het Riedel sy hand opgelig en die passasier van die voertuig met ’n sambok geslaan.
Die passasier het dit toe reggekry om Riedel se motorsleutel uit sy motor te gryp.
Hierna het die bestuurder uit hul voertuig geklim, waarna Riedel hom ook met die sambok bygedam het. Die passasier kon wel die sambok uit Riedel se hand ruk en het dit in hul voertuig toegesluit.
Volgens hulle het Riedel hulle daarna probeer paai en gevra dat hulle die voorval moet “los”. Hy wou ook weet of hy hulle kon “vergoed”, sodat hy nie strafregtelik vervolg sou kon word nie.
Hulle het egter reeds die polisie ontbied.
Toe die polisie op die toneel opdaag, het hulle vir Riedel gevra om huis toe te ry, wat hy wel gedoen het.
Hy het egter twee keer teruggekeer na die toneel terwyl die polisie besig was om die twee motoriste se verklarings te neem, waarna hulle Riedel vir dronkbestuur in hegtenis geneem het.
Riedel wou by navraag nie oor die aangeleentheid kommentaar lewer nie.
Volgens Ivo Zreck, eienaar van Crystal Direct, neem hy kennis van die voorval.
Hy sê dat hy die werkvoertuig by Riedel afgevat het hangende die ondersoek teen hom, maar dat hy nie ander stappe geneem het nie omdat die hofuitspraak nog moet volg.
Volgens die landdroshof het Riedel vir die eerste keer op 11 November in die hof verskyn op aanklag van slegs aanranding, en nie dronkbestuur nie, waarna die saak uitgestel is tot vandag.