Dit is reeds meer as twee jaar sedert konstruksiewerk aan die R301, oftewel die Wemmershoekpad, in die omgewing van Boschenmeer in die Paarl begin het, maar steeds sit motoriste wat die pad gebruik, met die hande in die hare weens die padwerke wat daaglikse verkeersopeenhopings veroorsaak.
Volgens ’n vorige berig in die Paarl Post, wat in Mei vanjaar gepubliseer is, behels dié R200-miljoen-projek, wat gesamentlik deur die Drakenstein-munisipaliteit en die Wes-Kaapse departement van infrastruktuur bestuur word, die uitbreiding van ’n enkel- na ’n dubbelbaan.
Dié besluit is geneem om die toename in verkeer op die R301 te akkommodeer namate sekuriteitskomplekse en landgoedere meer inwoners verwelkom.
Jandre Bakker, ’n woordvoerder vir die departement van infrastruktuur in die Wes-Kaap, het tydens ’n vorige geleentheid aan Paarl Post gesê die plaaslike regering beoog om die projek teen Oktober vanjaar te voltooi.
Hierdie stelling kan bevraagteken word omdat heelwat konstruksiewerk steeds op die R301 aan die gang is, met geen einde in sig nie.
Met Paarl Post se besoek aan ’n gedeelte van die pad die afgelope Maandag (21 Oktober) om 16:00 was die dubbelbaan aan die linkerkant in die rigting van Franschhoek voltooi, met konstruksievoertuie wat besig was om die twee bane aan die regterkant te voltooi.
Die verkeer was stilstaande in albei rigtings, met motoriste wat in die uitgange van die Boschenmeer-gholf-landgoed gesukkel het om toegang tot die R301 te kry.
Bakker het die vertragings aan die konstruksiewerk tot op hede aan natuurlike elemente toegeskryf, onder meer reën.
“Ons moet onthou dat die groter Drakenstein-gebied verlede jaar ’n natter as gewone winter beleef het. Sulke weersomstandighede het ’n beduidende uitwerking op ’n projek se verloop. Die vertragings is geïdentifiseer en ons is tans besig om die kwessies op te los,” het Bakker in Mei vanjaar gesê.
Volgens Bakker se jongste terugvoering sal die pad nou eers teen Maart 2025 voltooi wees.
Intussen het bykomende konstruksiewerk ook aan die R45 tussen die Paarl en Franschhoek begin, wat volgens Bakker eers in Oktober 2026 voltooi sal wees.
Paarl Post het toegekyk hoe motoriste in September tot 20 minute by ’n stop-en-ry-stelsel by die vierrigtingstop van die R101 en R45 moet wag soos wat die verkeer weens die padwerke herlei is.
Hierdie konstruksie, tesame met die padwerke op die R301, dra dus by tot die Drakenstein-vallei se huidige verkeersopeenhopings.
“Hoewel padwerke ongerief vir die padgebruiker bring, weeg die langtermynvoordeel van ’n verbeterde padnetwerk swaarder as die ongerief op die korttermyn,” sê Bakker.
Opgraderings aan gedeeltes van die R45 sluit in die installering van dienskanale, die installering van stormwaterkruisings, asook die verbreding van insitu-duikers.