Padwerke op Proteapad buite Klapmuts: Foto: Wes-Kaapse departement van infrastruktuur

Goeie vordering word gemaak met ’n projek van die Wes-Kaapse departement van infrastruktuur (DOI), wat na verwagting in November voltooi sal wees.

Volgens Jandré Bakker, DOI-direkteur van operasionele ondersteuning, is die R141,5 miljoen-projek van stapel gestuur om 3,3 km van Proteapad naby Klapmuts van ’n grondpad na ’n teerpad op te gradeer, en om sowat 5,4 km van Waarburghweg naby Joostenbergvlakte te rehabiliteer.

“Die opgradering van Proteastraat tot ’n teerpad sluit ’n 300 m-afsny en 330 m-opvulling in om dié padgedeeltes te herbelyn en reisveiligheid teen die ontwerpspoed van 80 km/h te verseker. Slegs 1 km van die teerwerk moet nog voltooi word.

“In Waarburghweg sal hulpbane by die toegangspunte van drie ondernemings gebou word, ’n bushalte sal by die Joostenberg Primêre Skool opgerig word, en dreineringswerk sal plaasvind – insluitend die vervanging van kleiner duikers en beton- en grondsylope. Erosiebeskerming, heinings, padmerke en verkeerstekens vorm deel van die aanvullende werk,” het Bakker gesê.

Volgens Tertuis Simmers, Wes-Kaapse minister van infrastruktuur, het die projek reeds 223 korttermynwerksgeleenthede geskep en 38 468 werksdae opgelewer. Tot dusver is R43,2 miljoen bestee aan die verkryging van goedere en dienste van geteikende ondernemings, terwyl 12 plaaslike ondernemings en agt opkomende kontrakteurs aan die projek deelgeneem het.

“Vervoerinfrastruktuur soos paaie is dryfkragte van ekonomiese groei en lê die grondslag vir toekomstige ontwikkeling,” het Simmers gesê.

“Deur toegang en mobiliteit te verbeter, verbind ons inwoners met geleenthede, lok ons beleggings en versterk ons plaaslike ekonomieë. Hierdie projek weerspieël hoe infrastruktuurlewering direk die Wes-Kaapse regering se Growth for Jobs-strategie ondersteun – deur volhoubare, geteikende beleggings in die gemeenskappe waar mense woon en werk.”

You need to be Logged In to leave a comment.