Van der Stelstraat in Paarl-Oos is weer oop vir verkeer nadat ontstoke lede van die Rastafariër-gemeenskap van Chicago Maandag (25 Augustus) na die Paarl-Oos-polisiekantoor opgeruk het.
Paarl Post verneem dat die betoging volg nadat die polisie glo die afgelope naweek op ‘n groot hoeveelheid dagga beslag gelê het.
Verkeer in die besige Van der Stelstraat is vir etlike ure ontwrig toe betogers die pad met brandende bande, klippe en vullis versper het.
‘n Afvaardiging van die Rastafariër-gemeenskap het Maandag met senior polisielede by die polisiekantoor ontmoet waartydens daar in ‘n vergadering vir Dinsdag (26 Augustus) belê is.
Paarl Post het uitgereik na kapt. Basil Seekoei, die woordvoerder van die Paarl-Oos-polisie, oor presies wat die afgelope naweek se operasie behels het en hoeveel dagga daar op beslag gelê is.
Die koerant wou ook weet of enigiemand die afgelope naweek in hegtenis geneem is.
Seekoei het die koerant na die polisie se provinsiale mediakantoor verwys. ‘n Navraag is aan die provisiale polisiekantoor gestuur en hul kommentaar sal bygevoeg word sodra terugvoering ontvang is.

Podoem Visante, een van die Rastafariërs in Chicago en een van die afvaardigers, het na afloop van die vergadering buite die polisiekantoor gesê hulle gaan hul demonstrasies voorsit totdat die dagga terug besorg word.
“Môreoggend 10:00 is daar ‘n vergadering. Hulle sê ons as Rastas mag nie dagga verkoop nie en dat ons volgens hulle wette in armoede moet lewe.
“Ons sal môre na hulle luister en sal almal weer hier wees. As ons nie [die] dagga terugkry nie sal ons heelweek betoog.”
Op 18 September 2018 is dagga in Suid-Afrika deur die Konstitusionele Hof gedeeltelik gereguleer wat die privaat-gebruik en beperkte kweek deur volwassenes wettig gemaak het.
Die openbare gebruik en verkoop daarvan bly egter krimineel.



You must be logged in to post a comment.