Die Young Peoples-rugbyspan was die wenner van die Paarlstreek se eerste Paas-rugbytoernooi in die Faurestraat-stadion. Dié span het Paarl Rangers in die eindronde met 33-22 geklop. Foto: Ernest Kilowan

Die Paarl se rugbykode het vanjaar besluit om sy rugbytoernooi oor die Paasnaweek aan te bied. Alhoewel die besluit op kort kennisgewing geneem is, het die organiseerders die uitdaging aanvaar en onmiddellik skouer aan die wiel gesit met die reëlings.

Klubs was gretig om deel te neem aan die Paas-rugbytoernooi en agt spanne het hul deelname gou bevestig.

Young Gardens het egter op baie kort kennisgewing uit die toernooi onttrek, wat dit vir die organiseerders moeilik gemaak het. Die toernooi kon nie met sewe spanne voortgaan nie.

Die organiseerders het alles in hul vermoë gedoen om nog ‘n span vir deelname te bekom, maar kon nie dadelik daarin slaag nie.

Perel United was gewillig om wel van Saterdag af aan die toernooi deel te neem ten einde die toernooi vlot te laat verloop. Die organiseerders bedank Perel United vir sy bereidwilligheid om te speel. Dit het tot die sukses van die toernooi bygedra.

Die Paas-rugbytoernooi is nog in sy babaskoene, maar almal glo dat die toernooi in statuur sal groei. Die toernooi is hier om te bly en die organiseerders wil die Paarlse rugbygemeenskap die versekering gee dié toernooi sal die Paarl-gemeenskap weer bymekaar bring, soos in die “Kraal se dae”.

Rugby was van die afskop op die eerste dag van hoogstaande gehalte en die spanne het mekaar goed opgekeil. In al die wedstryde moes die spanne spook en van die wedstryde is in die laaste minute beklink. Die toeskouers is vir die duur van die toernooi met goeie rugby vermaak.

Na afloop van die uitspeelrondes is die spanne in verloorders- en wenners-

afdelings ingedeel.

Violets, Perel United, Albions en Drakenkenstein het in die verloorders-afdeling meegeding, en Young Peoples, Young Standards, Paarl Rangers en Riverstones in die wenners-afdeling. Dit het ook as die halfeindronde in albei afdelings gedien.

In die halfeindrondes het die spanne min genade vir mekaar getoon omdat hulle almal in die onderskeie eindrondes wou speel.

Die spanne het genadeloos onder mekaar ingeklim. In veral die vasettespel is min genade getoon. Die stryd voorlangs was meedoënloos en hard. Niemand het vir mekaar teruggetree nie – maar rugby het geseevier.

Die toeskouers het hul spanne luidkeels aangemoedig en basies oor die wenstreep gehelp. ‘n Besondere gees het op die paviljoen geheers.

Op Maandag, 21 April is die onderskeie eindrondes in die skild-, boul-, plaat- en beker-afdelings gespeel.

Die beker-eindronde was beslis ‘n toonvenster vir rugby – want die spanne was genadeloos in alle aspekte van die spel.

Paarl Rangers het moedig probeer, maar Young Peoples het met goeie verdediging meer balbesit uit die vaste fasette bekom en ruimte geskep vir sy agterspelers wat ver ente veld gewen het.

Young Peoples wen die beker-eind-ronde met 33 – 22.

Die uitslae van die eindrondes:

  • Skild-eindronde: Drakenstein 37 – 32 Perel United;
  • Boul-eindronde: Violets 29 – 26 Albions;
  • Plaat-eindronde: Riverstones 39 – 10 Young Standards; en
  • Beker-eindronde: Young Peoples 33 – 22 Paarl Rangers.
Conwill Cleophas van die Violets-rugbyklub is as die speler van die toernooi aangewys. Hier breek hy deur Albions se verdediging.

You need to be Logged In to leave a comment.