Die Le Bac-landgoed op die R45 buite die Paarl. Foto: Le Bac/Facebook
Die Le Bac-landgoed op die R45 buite die Paarl. Foto: Le Bac/Facebook

Die Le Bac-landgoed- en troubestemming op die R45 buite die Paarl het onlangs onder vuur gekom vir wat sommige paartjies beskryf het as “misleidende bepalings en voorwaardes” met ‘n kompetisie waarby ‘n verloofde paartjie ‘n troupakket ter waarde van R24 500 vir tot op 30 gaste kon wen.

Die paartjie met die mooiste verhaal en meeste nominasies sou met die prysgeld wegstap maar Le Bac het toe uiteindelik ‘n trekking gedoen waarvan ‘n video daarvan op sosiale media gedeel is. In die video kan egter nie gehoor of gesien word watter paartjie se naam getrek was nie.

“Ons is glad nie suur dat ons nie gewen het nie maar al waarvoor ons vra is vir bietjie deursigtigheid. Eerstens, het Le Bac nooit gesê dat daar ‘n trekking gedoen gaan word nie.

“Maar selfs met die trekking kon hulle die name van die paartjies ten minste gelees het wat in die emmer gegooi is. In die video wat hulle op Facebook gedeel het kan ons glad nie hoor of sien wie die paartjie is wat se name getrek is nie. In fact, ons kan nie eers sien of daar enige ander name in die emmer is nie.

“Toe ons vra hoekom die video nie met sy oorspronklike klank geplaas is nie, was daar gesê dat dit baie winderig daai dag was. Ons het toe die oorspronklike video aangevra en Le Bac het ons bloot geïgnoreer,” het een paartjie by voorwaarde van anonimiteit aan Paarl Post gesê.

Ander het ook hul ongelukkigheid op Le Bac se Facebook uitgespreek.

“Dit was nie vir my en my verloofde bedoel nie, maar ek glo die wenpaartjie sal geseënd wees op hul lewenspad. Ek stem egter saam dat, volgens die advertensie, ons ’n storie of rede moes gegee het waarom hulle genomineer is, naamlik dat die mooiste en mees spesiale storie moes wen.

“Dit is nie volgens wat geadverteer is nie. Ek is seker baie mense is baie ontevrede oor hoe dit hanteer is, wat nie goeie blootstelling vir Le Bac is nie. Ek sal steeds die plek oorweeg, maar ek is nie seker of ek Le Bac as my nommer een-opsie sal kies nie, aangesien dit onregverdigheid weerspieël. Dit is hoe ek persoonlik daaroor voel,” lui ’n inskrywing op Facebook.

Nadia Theron, Le Bac se bestuurder, het by navraag aan Paarl Post gesê; “die intensie van die kompetisie was opreg”.

“Ons staan wel by die feit dat die kies van die wenpaartjie 100% regverdig was en dat Le Bac niks het om hierby te baat behalwe ons aanvanklike doel om ‘n paartjie hul droomdag te gee nie.”

Theron hou vol dat dit altyd die plan was om ‘n trekking te doen.

“Ons het gesê ons gaan volgens storie gaan en ons het.  Die top 5 stories is gekies en ons het een getrek.”

Paarl Post het die oorspronklike video van die trekking by Theron aangevra maar het dit egter ten tyde van publikasie nie ontvang nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article