Die Hugenote VGK se pastorie in Klein Drakensteinweg. Foto: Rasaad Adams

‘n Groot skandaal oor die VGK Hugenote-gemeente in die Paarl se dominee het op die lappe gekom nadat onlangs onthul is dat die geld uit al drie bankrekeninge van dié kerk klaarblyklik verdwyn het.

Hierdie geld sluit glo al die offerhande van die hele 2024 tot nou in, het ‘n gemeentelid vandeesweek aan Paarl Post vertel.

Volgens die lid bestaan die vermoede van finansiële ongerymdhede glo al ‘n geruime tyd.

Die kerkkantoor het glo altyd gesloer – selfs wanneer die kerkraad vir finansiële state sou vra.

Die bom het onlangs gebars toe die kerkraad daarop aangedring het om toegang tot finansiële state te kry nadat ‘n maatskappy wat ‘n heining opgerig het, glo nooit betaal is nie.

Die kerkraad is by monde van die skriba ingelig dat dié omheining die kerk bykans R100 000 uit die sak sou jaag.

‘n Noodvergadering is ‘n week gelede gehou, waartydens die aap uit die mou gelaat is en die skriba glo haarself en die dominee, Michael Wildeman, geïmpliseer het.

“Sy [die skriba] het erken dat daar nie geld is om die maatskappy vir die omheining te betaal nie. Volgens haar het sy en die dominee gesamentlik oor ‘n geruime tyd geld uit al drie rekeninge van die kerk getrek.

“Die kerk se beleggingsrekening het oor die R700 000 in gehad. Daar was meer as R300 000 in die lopende rekening. Ons kon nog nie vasstel hoeveel in die spaarrekening was nie.

“Al drie hierdie rekeninge is feitlik leeg,” het die gemeentelid vertel.

Volgens dié lid kon die skriba nie verklaar wat sy en die dominee met die geld gemaak het nie.

Die lid het ook aangevoer dat die kerk se munisipale rekening gevolglik met bykans R80 000 agterstallig is.

Die skriba is blykbaar intussen op “verlof” geplaas, het die waarnemende skriba die afgelope Maandag by die kerkkantoor gesê.

Ds. Michael Wildeman

Paarl Post het Wildeman Dinsdag (21 Oktober) by die kerk se pastorie, ook in Klein Drakensteinweg, oor die bewerings gaan konfronteer.

“Ek gaan nie enige vrae beantwoord nie.

“Gaan vra vir die mense wat hierdie stories met jou gedeel het,” het hy gesê voordat hy die pastorie se deur in die verslaggewer se gesig toegemaak het.

“U soek antwoorde net soos ek antwoorde soek. Hier word beweringe en beskuldings rondgeslinger en daar word nie kans gegee dat die kerk haar kerkordelike pligte uitvoer nie.”

Ds. Michael Wildeman

Hy het daarna in ‘n WhatsApp-boodskap gesê hy is ontkant betrap deur die bewerings.

“U soek antwoorde net soos ek antwoorde soek. Hier word beweringe en beskuldings rondgeslinger en daar word nie kans gegee dat die kerk haar kerkordelike pligte uitvoer nie.

“Ek hoop van harte dat met die beweringe daar bewyse ook is,” lees die WhatsApp-boodskap.

Paarl Post ondersoek egter al vir ‘n geruime tyd bewerings van finansiële ongerymdhede by hierdie kerk.

Wildeman het die koerant se kantoor op ‘n vorige geleentheid besoek, waartydens hy vorige bewerings as “sub judice” bestempel het.

Hy het toe beweer dat die gemeente ‘n komplot het om van hom ontslae te raak.

Wildeman wou egter steeds nie van- deesweek duidelikheid gee oor die stand van die kerk se geldsake en of enige geld wel verdwyn het nie.

Dié koerant het betroubaar verneem dat gesprekke reeds in die VGK se ring in die distrik plaasgevind het met ‘n besluit om die bewerings behoorlik te ondersoek.

Wildeman is in Maart 2023 amptelik as leier van VGK Hugenote beëdig.

Voor dit was hy vir bykans 20 jaar verbonde aan die VGK Woodstock, waar hy ook verskeie administratiewe rolle vervul het.

You need to be Logged In to leave a comment.