Hy was maar 13 jaar oud toe hy van sy ouerhuis weggeloop het om ’n lewe van bendegeweld en dwelmmisbruik te ontsnap en het toe op straat beland.
Vandag is Jeremy Arries ’n suksesvolle Paarlse entrepreneur, wat jaarliks meer as 200 deeltydse werksgeleenthede skep.
Arries is die stigter en besturende direkteur van Silver Solutions, ’n siviele-ingenieur-maatskappy in die Paarl wat tot so ver as George dienste lewer.
Silver Solutions spesialiseer in omgewingsdienste soos die afkap en snoei van bome, houtversnippering, onkruiddoders, vervoer en toerustingverhuring en ’n aantal dienste in die siviele ingenieurswese.
Arries het die onderneming in 2010 gestig, maar sy sukses het egter nie so maklik gekom soos baie sal dink nie.
Die lewe het talle struikelblokke op sy pad gebring en hy vertel hoe hy hierdie uitdagings gebruik het as ’n geleentheid om te groei en sy karakter te bou.
Volgens Arries het sy lewe drasties verander toe hy op 13-jarige ouderdom besluit het om skool te los en van die huis af weg te loop.
Hierdie besluit is nie geneem omdat hy die pad noodwendig byster geraak het nie, maar omdat bendes sy huishouding in daardie stadium binnegedring het.
“In 1997 het die American-bende se teenwoordigheid in Groenheuwel feitlik in ons huis ontstaan. Hulle wou my werf en wou hê dat ek by hul aktiwiteite betrokke raak.
“My oudste broer asook ons jongste broer het by hierdie bendegroep aangesluit, en dis toe ek besluit het ek gaan weghardloop. My ouer broer is vermoor weens sy bendebetrokkenheid en dit het my jongste broer gevoelloos gemaak. Hy was van daai tyd af in en uit die tronk,” vertel hy.
Volgens Arries het hy vir ’n tyd lank in ’n stormwaterpyp geslaap.
Hy vertel hoe die Sako-gesin van Paarl-Oos hom toe in hul sorg geneem en terug in die skool gesit het.
“Ek was (en is) baie dankbaar vir hulle. Ek is toe terug skool toe, maar het toe al besef die akademie is nie vir my nie. Ek is iemand wat goed is met my hande – nie noodwendig boeke nie.”
Nadat hy verskeie vaardigheidsprogramme voltooi het wat onder meer deur Eskom, die Wes-Kaapse regering asook die Drakenstein-munisipaliteit aangebied is, het Arries uiteindelik Silver Solutions in Julie 2010 op die been gebring.
Benewens die meer as 200 deeltydse werksgeleenthede wat sy onderneming jaarliks skep, het hy ook 45 permanente werkers.
“Ek neem nie net mense in diens nie, maar ’n baie groot deel van wat ek hier wil bereik, is om my mense met die nodige vaardighede toe te rus wat hulle kan gebruik, sou hulle besluit om verder te wil gaan.
“Ons woon gereeld ontwikkelingsprogramme by om nie net die werksplek vir almal veilig te maak nie, maar ook om elke werker verder te bemagtig. En hulle stap ook weg met sertifikate as bewys dat hulle hierdie programme voltooi het.
“Baie van die mense wat hier werk, het ’n soortgelyk pad as ek gestap. Hulle het nie skool klaargemaak nie. Dit is juis hoekom bemagtiging in die werksplek vir my so belangrik is.”
Arries sê gegewe sy agtergrond is hy trots op wat hy tot dusver bereik het.
“Aan die einde van die dag was dit my deursettingsvermoë wat my tot hier gebring het. Ek het vir myself gesê ek wil vir my eie familie ’n beter lewe gee en nie my kinders blootstel aan dit waaraan ek blootgestel was nie.
“Agter die boeke mag ek dalk nie altyd so goed gewees het nie, maar die Here het vir my hierdie hande gegee, dus gebruik ek dit om my eie sukses te bou.”