Die plaashuise op die plaas Eben-Haëzer in Klein Drakenstein is in die?reusebrand verwoes.

Bernard Combrink jr

‘n Geweldige geskiedenis-ryk plaashuis op die plaas Eben-Haëzer in Klein Drakenstein, Paarl, is in die vroeë-oggendure op Donderdag 16 Januarie in ’n reusebrand verwoes. 

Nooddienste het om 04:00 ’n noodoproep gekry waar munisipale brandweer en die Drakenstein-plaaswag ontbied is om die brand te beheer.

Die hoofhuis en ’n kothuis, wat later gebou is, is in puin gelê. 

Volgens Patricia Combrink, die eienaar van die plaas Louise Breugem (81) se dogter, was haar ma saam met twee gaste in die hoofhuis.

’n Kothuis wat op die plaas deur ‘n gesin gehuur word het egter eerste begin gebrand.

Combrink vertel die hoofhuis het ook as ’n gastehuis gedien en ’n gas het haar ma wakker gemaak.

“My ma is met net haar nagklere, japon en selfoon daar uit,” sê sy. 

Sy vertel haar ma het flinkgedink en het nooddienste ontbied, sproeiertjies wat die grasdak natmaak aangedraai en die Cheetah-plaas langsaan in kennis gestel.

Die bejaarde vrou is toe na ’n plaaslike hospitaal vervoer vir rookinaseming, maar is intussen na ’n hospitaal in Panorama in die noordelike voorstede oorgeplaas.

Combrink vertel haar ma het Donderdagoggend ’n ligte hartaanval gekry maar sy sê haar ma sterk goed aan.

“Sy is werklik net baie bly niemand het ernstig seergekry nie,” voeg Combrink by.

Derrick Peceur, operasionele brandweerhoof van Drakenstein Brandweer, het gesê die oorsaak van die brand is nog nie bekend nie.

You need to be Logged In to leave a comment.