Gaireyah Fredericks by die bekendstelling van haar debuutbundel, Een voet innie kabr.

Sarie Nell

Altesaam 38 jaar nadat Eugène Marais se gedig “Dans van die Reën” haar as laerskoolmeisie bekoor het, wen sy die Eugène Marais-pys vir prosa en verlede week ook die Universiteit van Johannesburg se debuutprys vir Afrikaans.

Dit was nooit in die Paarliet Gaireyah Fredericks se gedagtes om ‘n topverkoper

te skryf toe sy destyds in 2012 by die Breytenbach-sentrum in Wellington se klasse vir groentjie-digters aangesluit het nie. Tog het sy pas twee indrukwekkende pryse gewen met Een voet innie kabr (“kabr” beteken “graf”).

In hierdie debuutbundel skryf Fredericks (48) die Kaapse Moslemtaal en -kultuur oop in Kaapse Afrikaans. Terwyl sy tonele skets van begrafnisse, familiekuiers, daaglikse sleur-oomblikke en komiese tonele soos dié van buurkinders se fietse, belig 21 hoofstukke veral die geestelike sy van Moslem-tradisies. Die boek word beskryf as ‘n “intieme uitbeelding van ‘n Kaaps-Maleise gemeenskap; oopgeskryf soos nog nooit tevore [nie].

“Die Islamietiese praktyk en taal, eie aan Kaapstad, word neergepen in kleurryke stories en karakters.”

Met Een voet innie kabr het Fredericks twee gerekende pryse gewen: In Maart die Eugène Marais-pys vir prosa, en verlede week die UJ debuutprys vir Afrikaans 2025. Die Universiteit van Johannesburg beskryf haar werk so: “Dit is indrukwekkend hoe behendig en vlugvoetig haar stem en ook hoe uiteenlopend haar verhale en karakters is. Haar debuut word aanbeveel vir die uiters belangrike bydrae wat dit tot die Afrikaanse literatuur maak.”

Tussen hierdie twee toekennings wen sy ook die Diana Ferrus-literatuurprys vir haar gedig “swaa dra”.

Hoe kan Fredericks prosapryse wen nadat haar skryfwerk met gedigte begin het? Sy vertel op haar kleurryke manier hoe Diana Ferrus haar en ander groentjies letterlik laat ontwaak het, hoe Ferrus hulle gehelp het om in hulself te begin glo én om uit die hart en siel te skryf. Hierna was daar geen keer nie. Eers het Fredericks 14 digbundels self publiseer en sommer ook vier familielede aan die skryf gekry. Hierna het ‘n indrukwekkende lys publikasies gevolg en sy het pryse vir drama- tekste, gedigte en verhale in Afrikaans, Engels en Kaapse Afrikaans gewen. Vir haar Kaaps is Hollands beskryf Daniël Hugo haar as “die grootste verrassing van 2016”.

In 2023 bestempel Darryl David haar It’s been a minute as die beste produksie wat hy in sy 17 jaar van fees-aanbiedings gesien het. Toe haar Een voet innie kabr in Januarie 2024 die mark tref, is die eerste druk binne vier weke uitverkoop.

Sedert Fredericks “ontwaak” het, tree sy gereeld by kultuurfeeste op – selfs in China en Maleisië. Sy bied kreatiewe skryfsessies reg deur Afrika en aanlyn tot in New York aan; sy gee kulturele raad vir die verfilming van Suidooster en skryf ook etlike episodes. Intussen herskryf sy saam met die Universiteit van Wes-Kaapland dele van die Wes-Kaapse skoolkurrikulum na Kaaps-Afrikaans.

Sy het met ‘n gesin van vyf seuns ‘n honneursgraad aan die Universiteit Wes-Kaapland behaal, gevolg deur ‘n M-graad by die Rhodes-universiteit. Een voet innie kabr is die produk van haar M-verhandeling onder mentorskap van Nathan Trantraal.

Diana Ferrus en haar oorspronklike digtersvriende vorm steeds ‘n belangrike deel van haar ondersteuningstelsel. Hulle noem hulself die Mengelmoesdigters, skryf saam, vergader maandeliks en tree saam by kultuurfeeste op.

Terwyl Fredericks terugkyk na 13 jaar van groei en harde werk, vertel sy hoe haar seuns haar ondersteun; dat hulle sien hoe sy as enkelma aanhou leer en groei.

Fredericks dryf nou vyf projekte tegelyk: ‘n drietalige Kaapse woordeboek, ‘n digbundel, ‘n teaterteks en kinderboek – en haar eie memoirs.

“Ek het myself altyd bloot gesien as ‘n mamma; stoflap in die hand.

“Deesdae deel ek graag die boodskap dat jongmense ook op alternatiewe roetes sukses kan behaal.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article