Die skoolhoof, Natalie Arendse, saam met die skool se hoofleiers in die nuwe welstandsentrum. Langs haar sit Kirah Witbooi en Tibusiso Tsabedze. Agter staan Musa Lufele en Zavier Buys. Foto: Chantélle Hartebeest
Die skoolhoof, Natalie Arendse, saam met die skool se hoofleiers in die nuwe welstandsentrum. Langs haar sit Kirah Witbooi en Tibusiso Tsabedze. Agter staan Musa Lufele en Zavier Buys. Foto: Chantélle Hartebeest

Die welstand van leerders is uiteraand die grootste voorkeur vir die Noorder Paarl Hoërskool, sê die skoolhoof, Natalie Arendse, nadat ‘n welstandsentrum verlede week by dié skool geopen is.

“Ek wil graag glo dat dit absoluut ‘n voordeel vir die skool sowel as vir die leerders en ouers sal wees. Ons skool bedien ‘n baie diverse gemeenskap. Party kinders kom uit huise wat beskermd is en dan is daar gesinne wat baie swaar trek. Armoede, werkloosheid en geweld kom voor en dan kom ons kinders ook dikwels uit [verskillende] gemeenskappe.”

Dr. Rochshana Kemp, die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) se provinsiale sosialemaatskaplikebestuurder, het met die aanvang van die sentrum gesê die doelwit van die welstandsentrum is om psigososiale ondersteuning nader aan leerders te bring, maar ook om psigososiale ondersteuningsdienste uit te brei.

“Ons leerders gaan dikwels deur baie trauma – hetsy tuis of in die gemeenskap. Ons besef ook wat ook al in die gemeenskap of tuis gebeur, na die skoolterrein oorspoel en ons leerders kom met baie uitdagings en groot behoeftes skool toe. Ons wou die leerders ‘n toegewyde ruimte gee waar hulle die nodige berading kan ontvang.”

Arendse verduidelik leerders ry elke dag met agt busse na die skool van omliggende plase of stap van so ver as Mbekweni.

“Waarmee ons dan nou sit is, is dat die kind nie maklik by gesondheidsdienste kan uitkom nie, want die skool kom eers om 14:30 uit. Dan moet die kind huis toe gaan en gesondheidsdienste se werktyd is dan al amper verby. Die sentrum gaan verskillende rolspelers hê wat dit beman en ‘n gedeelte daarvan sal gesondheidsdienste wees. Daar is geweldige trauma en dit alles speel ‘n rol in akademiese prestasie. Ons kinders probeer hard, maar somtyds vervul die gemeenskap nie sy rol nie. Dis wat ek hoop die sentrum sal kan doen – om die skool te ondersteun omdat die kind ten minste, soos hulle in Engels sê, ‘a fighting chance’ vir ‘n beter toekoms het.”

Feroze Thompson, ‘n skool- maatskaplike werker vir die Kaapse Wynland-onderwysdistrik, gaan direk by die sentrum betrokke wees.

“Eerstens moes ek ‘n skool identifiseer; tweedens moes ek ‘n motivering gee oor hoekom ek dié spesifieke skool gekies het. Een van my motiverings het verband gebou met die uiteenlopenheid van die skool. Hier is nie een kind wat in die skool se straat woon nie.”

Die sentrum is met ope arms ontvang.

Tibusiso Tsabedze, Noorder-Paarl se hoofmeisie, sê: “Ek voel baie gelukkig en ek voel dis ‘n wonderlike stap om ons leerders te help om die dinge wat hulle deurmaak, te help genees en eintlik te praat oor die dinge waaroor hulle nooit kan praat nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article