Skoolbeheerliggame speel al jare lank ’n integrale rol by staatskole oor Suid-Afrika heen; nou dreig die regering om van die verantwoordelikhede wat die beheerliggame nagekom het, oor te neem.

ANC-LP’s het op ’n onlangse portefeuljekomiteever­gadering oor die wysigingswetsontwerp op basiese onderwyswette (Bela) gesê die wet, wat beheerliggame in staatskole beskerm, moet geskrap word.

Die rede hiervoor is glo sodat die regering self die toelatingsbeleid, aanstellings en onderrigtaal by skole kan oorneem, in plaas van die beheerliggame.

Die Wes-Kaapse minister van onderwys, David Maynier, stem egter nie saam met die Bela-wetsontwerp nie.

“Die Wes-Kaapse regering ondersteun nie die wetsontwerp nie, aangesien dit poog om die magte van skoolbeheerliggame te erodeer, wat die seggenskap wat ouers in hul kinders se opvoeding het, sal verminder.”

Dié wetsontwerp, wat tans voor die parlement is, stipuleer dat die staat sal bepaal watter onderrigtaal en toegangsbeleid ’n skool moet handhaaf, eerder as die beheerliggaam, soos dit tans geskied.

Die ANC-LP Patamedi Moroatshehla se argument tydens die bespreking was dat beheerliggame te veel vryheid geniet, wat daartoe bydra dat die beleid “onwettig” gebruik word om sekere leerders toegang tot ’n spesifieke skool te weier.

Die EFF-LP Mzwanele Manyi het bygevoeg dat dié party ook die Bela-beleid teenstaan omdat dit rassisme in skole kan vererger wanneer beheerliggame nie sekere leerders toegang tot ’n skool van hul keuse gee nie.

Die ANC- en EFF-LP’s het aangevoer die besluite wat by die beheerliggame berus, moet eerder aan die onderwysdepartemente oorgelaat word.

Die DA, ACDP, asook die VF-plus was ook by die bespreking teenwoordig en het hul teenkanting teen die Bela-beleid duidelik gemaak deur te sê beheerliggame moet hul magte behou, en ’n regsopinie sal ingewin moet word oor die regverdigheid van hierdie omstrede beleid.

Paarl Post het na ’n paar skole vir hul mening oor die rol wat beheerliggame in skole vervul, uitgereik.

Hulle het egter die geleentheid van die hand gewys omdat hulle nie by enige politieke twis betrokke wil raak nie.

You need to be Logged In to leave a comment.