Die liefdevolle herinneringe aan die soort mens wat Naasif Abrahams was, is juis dit wat sy geliefdes en vriende troos ná sy skielike sterfte op die rugbyveld die afgelope naweek.
Die 45-jarige Abrahams van die Paarl het vir die plaaslike rugbyspan Vineyards uitgedraf en het as losskakel vir die derde span gespeel.
Abrahams en sy span het verlede Saterdag teen Hamlets in Mamre gespeel toe hy op die veld inmekaargesak het.
“Dit het ’n paar minute voor die einde van die wedstryd gebeur. Ek was nog op pad na Mamre,” het Junaid Moerat, ondervoorsitter van Vineyards, in ’n onderhoud gesê.
“Naasif was van jongs af betrokke by Vineyards en by rugby. Hy was nie net ’n rugbyspeler nie, maar het ook as afrigter vir die derde span en ook in Vineyards se bestuur gedien. Sy pa, Achmat, is die erepresident van die klub.”
Moerat beskryf Abrahams as ’n nederige mens en iemand wat altyd bereid was om met enigiets te help.
“As daar van die spelers was wat ’n saamrygeleentheid nodig gehad het, was hy die een wat eerste aangebied het. As daar van die ouens vroeg op die veld moes wees, dan was hy daar. I will remember him for being the voice of reason.”
Volgens Moerat het Abrahams jare lank by Absa in Stellenbosch gewerk.
“Sy dood is baie moeilik vir almal van ons hier by Vineyards, want ons was amper elke dag saam. Dit het nog nie ingesink dat hy gesterf het nie.”
Die presiese oorsaak van Abrahams se dood is nog nie bekend nie. Baie ondersteuners van Vineyards, asook ander rugbyklubs van ver en naby, het hul skok en medelye oor Abrahams se skielike heengaan op sosiale media gedeel.
Hy word oorleef deur sy pa, Achmat, sy broer, Niyaaz, en sy suster, Malika. Abrahams se ma, Mastoera, is verlede jaar in Mei oorlede.
Niyaaz het aan Paarl Post gesê die familie is baie dankbaar vir die ondersteuning wat hulle die afgelope tyd sedert sy broer se dood ontvang het.
“Ons wil net baie dankie sê aan almal wat ons in dié tyd bygestaan het. Baie dankie vir almal se bydraes en ondersteuning. Ons as ’n familie waardeer dit opreg. Dit beteken vir ons baie.”
Abrahams is ingevolge die Moslem-geloof reeds ter ruste gelê.