Donovan van Schoor staan by sy “Jaws of Life”-apparaat wat onder meer gebruik word om vasgekeerdes uit wrakke te red. Foto: Rasaad Adams


Donovan van Schoor, ’n reddingswerker verbonde aan die Paarl-nooddienste, is een van drie uit die Kaapse Wynland-distrik wat Suid-Afrika later vanjaar by die World Rescue and Extrication Challenge (WREC) in Portugal gaan verteenwoordig.

Paarl Post het vandeesweek met hom gesels toe hy vertel het watter belangrike rol tegnici in reddingsoptredes vervul.

“Ons werk as tegnici is om die toneel, voertuig of wrak veilig te verklaar sodat die res van die reddingswerkers hul deel veilig kan afhandel.

“Die kompetisie self is ’n baie verrykende ervaring. Ons leer oor die nuutste voertuie en werk met die jongste tegnologie.

“Jy het natuurlik ook te doen met reddingspanne van ander lande. Die werk wat ons almal doen, is soortgelyk; dis gewoonlik net die tegnologie en klas voertuie wat verskil.

“Elke keer wanneer jy gaan, is daar iets nuuts om te leer, want behalwe vir die praktiese ervaring, moet jy ook seminare bywoon,” sê hy.

Volgens Van Schoor hou die verskillende streke oor die Wes-Kaap jaarliks sy eie uitdunne om die beste kandidate te kies wat uiteindelik hul streek en ook Suid-Afrika by die kompetisie gaan verteenwoordig.

“Ons is drie uit die Kaapse Wynlande. Dit is ek, ’n paramedikus van Worcester en dan ook een van Stellenbosch. Daar is ook een kandidaat per streek vanuit die Overberg, George en die Weskus.”

Van Schoor het bykans 30 jaar gelede sy loopbaan i

Van Schoor het bykans 30 jaar gelede sy loopbaan in nooddienste as ’n brandweerman in die lugmag begin. Foto: Rasaad Adams

Wat hom selfs meer bekwaam maak om Suid-Afrika by dié kompetisie te gaan verteenwoordig, is die feit dat hy een van die reddingswerkers van die Kaapse Wynland-distrik is wat vroeër vanjaar na die George-woonstelblok-tragedie ontplooi is.

Hy het sy betrokkenheid by die reddingsoptrede in George as die hoogtepunt van sy loopbaan beskou.

“Dit was heeltemal ’n anderse ervaring teenoor wat ek al ooit voorheen beleef het – net om die gesinne te sien wat dag en nag daar langs die ramptoneel gewag het vir nuus oor hulle geliefdes.

“Dis daar waar mens besef hoe belangrik jou werk is. Ons het mense gehelp om afsluiting te vind met elke liggaam wat uit die puin uitgehaal is.”

Van Schoor het bykans 30 jaar gelede sy loopbaan in nooddienste as ’n brandweerman in die lugmag begin.

Hy het sy kwalifikasie in reddingswerk in 2006 aan die Western Cape Emergency College in Tygerberg verwerf.

Hy help ook dikwels die polisie se duikeenheid met verdrinkings.

Van Schoor by 'n ongelukstoneel in Lady Greystraat in

Van Schoor by ‘n ongelukstoneel in Lady Greystraat in die Paarl. Foto: Rasaad Adams

Die WREC, wat in November plaasvind, is ’n internasionale kompetisie wat daarop gemik is om noodreddingspersoneel van reg oor die wêreld saam te bring om hul vaardighede in die redding van mense in noodgevalle te toets en te verbeter.

Die kompetisie fokus spesifiek op die uithaal van slagoffers uit voertuie ná motoronglukke – ’n proses bekend as extrication of bevryding.

Dit is ’n hoogs tegniese veld waar vinnige en doeltreffende reaksie deur reddingswerkers van kritieke belang is om mense te red.

Tydens die kompetisie word spanne beoordeel op hul vermoë om doeltreffend, veilig en met empatie op die toneel van ’n ongeluk op te tree.

Spanlede moet ook noodhulp verskaf, wat insluit die stabilisering van die pasiënt en voorbereiding vir vervoer na ’n hospitaal.

Dit bied ’n geleentheid vir reddingspersoneel om by mekaar te leer, nuwe tegnieke aan te leer en om die jongste toerusting en tegnologie wat in noodreddingsituasies gebruik word, te ervaar.

Deelnemers aan die WREC kom uit ’n wye verskeidenheid lande, wat die kompetisie ’n werklik wêreldwye geleentheid maak.

Dit help om wêreldwye standaarde vir noodreddingsdienste te bevorder en dra by tot die verbetering van die veiligheid en doeltreffendheid van reddingsoptredes oor die wêreld heen.

You need to be Logged In to leave a comment.