Shonene Theunissen


Shonene Theunissen, ’n plaaslike nie-praktiserende prokureur wat teregstaan op bedrogaanklagte van bykans R4 miljoen – waaronder ’n aanklag dat sy ’n Paarlse familie uit ’n bestorwe bedoel bedrieg het – is op borgtog van ’n skrale R4 000 vrygelaat en sal in Januarie volgende jaar weer in die handelsmisdaadhof in Bellville verskyn nadat sy skuld beken het.

’n Lasbrief vir haar inhegtenisneming is op 10 Julie verlede jaar uitgereik nadat sy versuim het om voor die einste hof in Bellville te verskyn.

Sy is toe op 20 September verlede jaar deur die Valke aangekeer.

Lt.kol. Siyabulela Vukubi, ’n woordvoerder vir die Valke in die Wes-Kaap, het vandeesweek by navraag aan Paarl Post gesê Theunissen staan tereg op ’n aantal bedrogaanklagte wat bykans R4 miljoen beloop.

Vukubi het egter nie uitgewei presies hoeveel aanklagte Theunissen in die gesig staar nie.

’n Onberispelike bron het vandeesweek gesê Theunissen was vir etlike maande agter tralies nadat sy glo nie die aanvanklike R8 000 vir haar borgtog kon opdok nie.

Die bedrag is toe in Augustus vanjaar tot R4 000 verminder en sy is kort daarna vrygelaat tot haar volgende hofverskyning in Januarie aanstaande jaar, sê die bron.

Paarl Post het in Oktober verlede jaar berig Jacky le Roux, ’n inwoner van die Paarl en die dogter van wyle Crystal Gunter, wat in Februarie 2021 op 87 jaar aan nierversaking oorlede is, is een van Theunissen se vermeende slagoffers.

Bykans R1 miljoen het glo uit Le Roux ma se boedelrekening verdwyn nadat sy Theunissen vertrou het om die boedel te behartig toe Le Roux in Mei 2021 as eksekuteur van die boedel aangestel is.

Tot Le Roux se skok is verskeie transaksies tussen April en September 2022 uit haar ma se boedelrekening gedoen en in onder meer ’n rekening in die naam van Theunissen se dogter oorgeplaas.

Verskeie ander transaksies is glo ook gedoen, wat as “besigheid” en “erfenis” getitel is.

Dit was eers teen laat 2022 dat Le Roux onraad vermoed het.

Al wat tóé oorgebly het, was R605 nadat Le Roux die boedelrekening se state by die bank aangevra het.

Le Roux het dit toe “haar werk gemaak” om ’n regsverteenwoordiger in Januarie vanjaar aan te stel, waarna Theunissen glo erken het sy het die geld gesteel.

Theunissen het glo erken dat sy R529 000 aan Le Roux verskuldig is, en het beloof om teen einde Januarie sowat R50 000 terug te betaal gevolg deur maandelikse paaiemente van R4 000.

Die R605 wat in die rekening oorgebly het, het enkele dae na dié belofte ook uit die boedelrekening verdwyn.

Le Roux het vandeesweek aan Paarl Post gesê sy is dankbaar vordering word in die ondersoek gemaak.

“Ek is net bly die hoofstuk loop nou einde se kant toe – nie dat ek enigsins glo ek sal uitkry wat gelykstaande is aan dit wat sy van ons ontneem het nie. ’n Mens wil nou maar eintlik net hê sy moet boet vir wat sy aan my en ander gedoen het. Ons kan nie bekostig dat sy dit aan nog ander mense ook doen nie,” sê Le Roux.

You need to be Logged In to leave a comment.